|

Upington-tak verleen hulp aan plaaslike klinieke

Die AfriForum-tak in Upington het op 30 Junie broodnodige items aan die Lingelethu-kliniek en die Louisvaleweg-kliniek in hierdie dorp oorhandig. Die items wat geskenk is, is immuunversterkers, toiletpapier, stinksalf, vitamiene B-tablette, vitamienestroop, hoesstroop, Actamol en Painamol.

Soos heelwat staatsbeheerde entiteite, suig klinieke in ons woongebiede aan die agterste speen. Baie van die klinieke is vervalle, onderbefonds, onderbeman en nie goed genoeg toegerus om aan hul daaglikse pligte te voldoen nie. Hierdie klinieke is veronderstel om die eerste plek te wees waar mense, veral die armste van die armes, aanklop vir behandeling vir geringe beserings en kwale.

Hierdie kwesbare lede van die gemeenskap kry karig die geskikte behandeling en/of voldoende hulp, omdat die klinieke nie hul werk behoorlik kan doen nie weens die gebrek aan basiese mediese voorraad en ander noodsaaklikhede. Oor die land heen probeer personeel in hierdie klinieke om onder moeilike omstandighede dienste aan pasiënte te lewer, terwyl hulle skaars die nodige ondersteuning kry.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoordineerder in die Kalahari, is dit baie belangrik om saam te staan en ’n verskil in gemeenskappe te maak. “As die gesondheidstelsel reggeruk gaan word, moet daar by hierdie klinieke begin word.”

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS “Upington” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings