|

Oudtshoorn-tak verkies nuwe bestuur

AfriForum se Oudtshoorn-tak het onlangs ’n nuwe bestuur aangewys om verder op dié tak se suksesse te bou. Die nuutverkose bestuur bestaan uit ’n groep mense wat uitgebreide kennis en ervaring tot die tafel bring. Johan Olivier is as voorsitter van die tak aangewys en Cobus Pretorius as ondervoorsitter. Elmarie Els sal voorts as sekretaris optree, Cobus Saayman as tesourier en Nico van der Merwe as voorsitter van veiligheid.

“Ons besef daar rus ’n groot verantwoordelikheid op ons skouers om die dorp vir almal te verbeter. Ek is vol vertroue dat ons die mas gaan opkom en ’n verskil in die gemeenskap sal maak,” sê Olivier.

Die Oudtshoorn-tak het reeds talle verbeteringe in dié gemeenskap teweeggebring en verlede jaar onder meer verskeie dele van die dorp verfraai deur bome te plant, bome te snoei en vullis op te tel en te verwyder.

“Die nuwe span is gretig om voort te bou op die sukses van hul voorgangers en die Oudtshoorn-tak tot nog hoër hoogtes te neem,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Die Oudtshoorn-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en ’n verskil in die gemeenskap te maak. Kontak Erasmus by marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings