Regering hol jakkalsdraaie om aan sy mag te klou

Die burgerregteorganisasie AfriForum sal voortgaan met sy hofsaak indien die regering nie die ramptoestand ophef nie. AfriForum sal ook die voorgestelde wysiging aan die gesondheidswet teenstaan. Die wysiging van die gesondheidswetgewing is net nog ’n poging deur die regering om die mag, wat deur die instel van drakoniese regulasies die afgelope twee jaar verkry is, te behou.

Ná volgehoue druk deur AfriForum en ander organisasies, het die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, aangedui dat die ramptoestand op 5 April opgehef gaan word.

Dit is egter kommerwekkend dat die opheffing van die ramptoestand, nie ’n einde aan die ramptoestandregulasies sal bring nie. ’n Regulasie wat onlangs gepubliseer is, dui nou aan dat die ramptoestandregulasies steeds geldig sal wees vir 30 dae ná die ramptoestand opgehef is.

Dus, al is daar geen ramptoestand nie, sal die regering steeds al hierdie onnodige regulasies kan afdwing totdat hy die huidige gesondheidswet aangepas het om die regulasies in permanente wetgewing te vervat.

Die voorgestelde wysigings aan die gesondheidswet sal die staat mag gee om mense in kwarantynkampe in te dwing en mediese behandeling op hulle af te dwing. Die dra van maskers binnenshuis sal ook verpligtend bly en daar sal ook ’n permanente beperking wees op die hoeveelheid mense wat geleenthede mag bywoon.

AfriForum gaan kommentaar indien om die wysigings aan die gesondheidswet teen te staan. Die organisasie het ook reeds sy regspan opdrag gegee om die nodige regsaksie te neem indien die regering besluit om voort te gaan met dié wysigings.

“Die ANC is magsmal en doen sy uiterste bes om allerhande slinkse maniere uit te dink om aan sy onbeperkte magte te klou. Solank as wat hierdie regulasies in plek is, kan die president en ’n klein groepie ministers die parlement omseil en regulasies uitdink soos hul lus kry. Vir alle praktiese doeleindes, is Suid-Afrika al vir twee jaar nie meer ’n demokrasie nie en daarom sal ons aanhou baklei vir burgers se regte,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Soortgelyke plasings