|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Hoërskool Bothaville en Salomon Senekal Hoërskool met #DieValFilm

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 5 Augustus by die Hoërskool Bothaville en Salomon Senekal Hoërskool besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kuberafknouery was veral aangespreek, juis omdat dit deesdae ’n groot probleem onder tieners is,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit was vir ons lekker om Leandie en Tania te ontvang waar Leandie met ons gesels het oor boeliegedrag sowel as wenke vir ons toekoms. Ek is seker almal kan sê dat die praatjie vir hulle iets beteken het,” sê Henno Nel, matriekleerder aan die Hoërskool Bothaville en voorsitter van die AfriForum Jeug-tak in Bothaville.

Daar was ook gesels oor Die Val, ’n film wat op 10 September op AfriForumTV beskikbaar sal wees. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood. Vir meer inligting besoek www.dievalfilm.co.za.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings