|

AfriForum se Worcester-tak sorg óók vir brandbestryders

AfriForum se takke in die Wes-Kaap help nie net om die verwoestende brande in dié provinsie te blus nie, maar maak óók seker dat die brandbestryders wat hierdie gevaarlike en allerbelangrike werk doen, versorg word.

AfriForum se Worcester-tak het 72 bottels water en 24 koeldranke aan diegene geskenk wat die brande in Wolseley bestry. Die brande in hierdie gebied het reeds bykans 6 000 ha verwoes. Die skenking is aan Breërivier Training & Development en Cape Winelands Training oorhandig, wat op hul beurt dit aan brandbestryders uitgedeel het.

AfriForum se Overstrand-tak het ook verlede week 300 individuele sakkies oogdruppels aan brandbestryders geskenk om hulle te help om brandbestryding hier voort te sit.

“Soos die brande in die Wes-Kaap verwoesting saai, probeer elkeen help om dit onder beheer te kry. Die mense wat nie self die brande blus nie, help deur ondersteuning te bied aan dié wat hierdie belangrike werk verrig. Skenkings soos water en koeldrank stel brandbestryders in staat om verder en harder te werk om die brande te probeer blus,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

AfriForum se Worcester-tak is dankbaar vir diegene wat hand bysit om die brande onder beheer te bring. Die tak doen ook ’n beroep op elkeen om te help waar hulle kan.

Raak betrokke by AfriForum se Worcester-tak om ’n aktiewe verskil in dié gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings