|

Verhoordatum vasgestel in saak van seksuele aanranding teen voormalige waarnemende regter

Die streekshof in Johannesburg het ’n verhoordatum vasgestel vir die saak van seksuele aanranding en teistering teen ’n voormalige waarnemende regter. Die beskuldigde het vandag vlugtig in die hof verskyn waar sy regsverteenwoordiger bevestig het dat hulle die dossier van die staatsaanklaer ontvang het. Die verhoor is vir 25 en 26 Augustus 2022 vasgestel.

’n Jong vroulike advokaat het ’n strafregtelike klag teen die beskuldigde ingedien, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie totdat die klaer AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in Oktober 2021 vertoë aan adv. Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolgings in Gauteng (DOV), gerig omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die regter gedoen is nie. Die DOV se kantoor het in Februarie 2022 in ’n skrywe aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat hulle ná ontvangs van die vertoë wel besluit het om die beskuldigde te vervolg.

Die klaer het ook die Balieraad, die Johannesburgse Vereniging van Advokate en die Raad vir die Regspraktyk (LPC) genader, maar min tot geen ondersteuning vanaf hierdie professionele liggame ontvang. Nadat die Privaatvervolgingseenheid dit egter onder die LPC se aandag gebring het dat die beskuldigde nou vervolg word, het die Raad, amper as ’n nagedagte, besluit om dissiplinêre stappe teen die voormalige waarnemende regter te doen.

Die beskuldigde het verder aansoek gedoen by die Regterlike Dienskommissie (RDK) om as voltydse regter oorweeg te word, maar hy het hierdie aansoek teruggetrek nadat vervolging ingestel is. Hy het ook, nadat die klaer die klagtes teen hom gelê het, ’n saak van crimen injuria teen haar gemaak waarna die ondersoek beampte in die saak vir haar gesê het dat sy kan bly wees dat sy nie op hierdie klagtes vervolg word nie. Die NVG het egter aangedui dat hulle geen vervolging op grond van hierdie klag sal instel nie.

Soortgelyke plasings