|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Die Poort

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 20 Julie 2022 by Laerskool Die Poort in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Die leerders is ook bewus gemaak oor die gevare van sosiale media, kuberafknouery en hoe die internet op ’n veilige manier gebruik kan word,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“In skole is boeliegedrag tans aan die orde van die dag. Dis belangrik om leerders reeds in die grondslagfase te bemagtig om boelies uit te ken en om ook vir hulle die nodige vaardighede te leer om weerstand te bied teen boelies en hul wangedrag. Geen leerder hoef ’n slagoffer te wees nie,” sê Helet-Marie Schultz, ’n onderwyser by Laerskool Die Poort.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings