|

KwaZulu-Natalse takke verleen hulp tydens vloede

Die AfriForum-takke in KwaZulu-Natal het hul hande vol gehad met die onlangse oorstromings in dele van die provinsie, terwyl van die takke wat nie in die vloed-geteisterde gebiede is nie ingespring en noodsaaklikhede vir slagoffers begin insamel het.

Die vloede het talle lewens geëis en baie ander het beserings opgedoen. Geweldige skade is aan geboue, huise en diensleweringsinfrastruktuur aangerig. Dit het tot gevolg gehad dat Durban en omliggende dorpe sonder elektristeit gelaat is, terwyl die kragonderbrekings en skade aan waterpype ook gelei het tot ’n tekort aan varswater. Verder was sommige gemeenskappe se toegangsroetes na ander gebiede versper, terwyl sommige inwoners hul lewens ingevaar gestel en die sterk rivierstrome aangedurf het om by hul bestemmings uit te kom.

AfriForum se takke in Amanzimtoti en Margate het hulp verleen aan die gemeenskappe wat direk deur hierdie vloede geraak is. Die organisasie het ook in samewerking met ander instansies gehelp om ’n gesin te red wat tydens die vloede in hul huis se dak vasgekeer was.

AfriForm se takke in Pongola, Newcastle en Utrecht het onmiddellik saam met hul gemeenskappe benodighede vir die vloedslagoffers begin insamel en ’n noodfonds is gestig.

“KwaZulu-Natal het in die laaste jaar twee rampe beleef wat inwoners, besighede en regeringsinstellings in die provinsie onder geweldige druk geplaas het. Hierdie rampe het ook tot gevolg gehad dat gemeenskappe oor die provinsie heen skakeling met mekaar verbeter het. Verskeie gebeurlikheidsplanne is verlede jaar in plek gestel ná die betogings in Julie 2021,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Ons het nou egter gesien dat daar nog baie ruimte vir verbetering is en dat ons nie net op die regering moet staatmaak nie. Munisipaliteite se rampbestuurspanne vat veels te lank om noodplanne in werking te stel. Ons sien ook daagliks dat maatskaplike spandering, byvoorbeeld die aankoop van duur BBP-voertuie, eerder plaasvind as wat ramp-en-risikobestuur ontwikkel word,” sê Van Aswegen verder.

Nog verskeie ander behoeftes is geïdentifiseer om vloedslagoffers by te staan. Dis ’n uitdaging om gasbottels op te vul en om varswater, komberse en toiletpapier in die hande te kry. Die publiek kan ’n finansiële bydrae maak tot die noodfonds waar AfriForum en Helpende Hand sal toesien dat hierdie skenkings verantwoordelik gespandeer word.

AfriForum wil ook gemeenskappe aanmoedig om betrokke te raak by plaaslike gemeenskapsorganisasies. AfriForum se plaaslike strukture bied ’n geleentheid vir gemeenskappe om hulself te organiseer en struktureer. Dit versterk gemeenskappe om beter te beplan, asook om proaktief en voorbereid te wees.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te ontwikkel: SMS “AfriForum” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings