|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Durbanville  

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het in Augustus 2021 by die Laerskool Durbanville besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke graad 7-leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Die leerders het ook meer geleer oor kuberafknouery en die gevaar wat sosiale media kan inhou en hoe om dit veilig te gebruik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Kinders kyk op na volwassenes as dit kom by die korrekte gebruik van tegnologie, spesifiek sosiale media, maar kry ongelukkig nie altyd die korrekte voorbeeld van volwassenes nie. Met die druk van die stuur-knoppie is die boodskap virtueel en soveel volwassenes het al self in daardie slaggat getrap. Werklike voorbeelde hiervan het altyd besondere goeie trefkrag en Leandie het ’n hele paar voorbeelde van onvanpaste selfoongebruik aan die leerders voorgehou. Die teenboelieveldtog het leerders weereens oor die gevare van sosiale media en die verkeerde gebruik van daardie magtige klein instrument geleer. Matteus was die man van die oomblik!” sê Liezel Jacobs, adjunkhoof by die Laerskool Durbanville.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@antiek.afriforum.co.za of tania.scheepers@antiek.afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings