|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek skole in Vereeniging

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 13 Oktober drie skole in Vereeniging – Laerskool Drie Riviere, Laerskool Risiville en Laerskool Suikerbos – besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Boelie-bewusmaking in skole is belangrik omdat dit help om hierdie ernstige en skadelike probleem in skole te takel. Kinders moet weet wat boelie is en hoe om tekens daarvan raak te sien en dit te voorkom. Bewusmaking oor boeliegedrag en die effek daarvan moedig ook positiewe gedragsveranderinge in kinders aan,” sê Rivanndo von Brandis, ledesakebeampte by AfriForum. Von Brandis het as spreker opgetree by Laerskool Risiville. 

“Boeliegedrag in skole het die afgelope vyf jaar erg toegeneem,  veral omdat mense net hul menings wil lug sonder om dit behoorlik te oorweeg. Dít het oorgespoel na die jeug toe wat voel dat hulle kan sê wat hulle wil, wanneer hulle wil ongeag die gevolge daarvan. Die feit dat elke kind deesdae toegang tot ’n foon het, laat hulle ook toe om opinies te plaas soos hulle wil en sonder oorsig van die ouers se kant af. Kinders leer nie meer om respek te hê vir ander nie en dit lei tot boeliegedrag. Die plig rus nou vierkantig op onderwysers se skouers om kinders te leer om ander te respekteer. Skole moet ’n veilige omgewing vir elke kind wees,” sê Henriette Gebhardt, onderwyseres by Laerskool Drie Riviere. 

“Afknouery en boelie het ongelukkig deel geword van kinders in Suid-Afrika se lewens. Leerlinge wat geboelie word is meer geneig om depressie te ontwikkel, wat selfs tot selfdood kan lei. Langtermyn sielkundige gevolge word deur beide die slagoffer en die boelie ervaar. Sielkundige gevolge sluit in ’n gebrek aan konsentrasie by die skool, emosionele uitbarstings en ’n gebrek aan slaap, om net ’n paar te noem,” meen Carla Sharp, ontvangsdame by Laerskool Risiville.

“By Laerskool Suikerbos neem ons afknouery baie ernstig op. Afknouery is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie; ’n kind kan ’n slegte dag hê en ’n slegte besluit neem. Afknouery is ’n herhalende patroon van oortredings wat plaasvind. Hoewel elke voorval hanteer word soos dit plaasvind is ingryping op ’n hoër vlak nodig om herhaalde oortredings stop te sit. Ons streef daarna om positiewe versterking te implementeer. Ons wil probeer om die idee van ‘Be a Buddy, not a Bully’ in 2024 bekend te stel,” sê Chantel Keyser, departementshoof vir die grondslagfase by Laerskool Suikerbos.

Soortgelyke plasings