|

AfriForum-teenboelieveldtog besoek Bospatat Kleuterakademie

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 4 Maart by die Bospatat Kleuterakademie in Pretoria besoek afgelê.

Hierdie veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap – nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Kinders so jonk as drie jaar oud kan skuldig wees aan boeliegedrag. Dit is veral belangrik om al by kleuterskole bewusmaking van afknouery te skep in ’n poging om ’n positiewe verskil in laerskole en hoërskole te maak,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Bospatat het aan die teenboelieveldtog deelgeneem, want ons voel sterk daaroor dat boeliegedrag aangespreek en uitgeroei moet word. Dit is vir ons belangrik om ons kleuters van kleins af toe te rus met die vaardighede om teen boelies op te tree,” sê Ronique Greyling, onderwyseres van Bospatat Kleuterakademie.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings