|

AfriForum-tak in Heilbron lewer insette op vergadering met burgemeester

Die AfriForum-tak in Heilbron het verlede week saam met leiers van Phiritona, aan die burgemeester van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, Victoria de Beer, verduidelik wat die behoeftes en probleme in Heilbron is. Dit blyk dat dieselfde probleme oral in die groter Heilbron voorkom.

Benewens die memorandum wat die gemeenskap van Phiritona aan die burgemeester oorhandig het, het die volgende gemeenskaplike probleme na vore gekom in al die woongebiede: Die haglike toestand van die strate; die vuilheid en onnetheid; die onbevoegdheid en laksheid van die munisipale amptenare; die onwettige vullisterrein wat in ’n haglike toestand is; onbevoegde mense wat in posisies in die munisipaliteit aangestel word as gevolg van politieke assossiasies; die watertoevoer wat na alle buurte op gereelde basis swak is en swak dienslewering in die algemeen.

“Die tyd het aangebreek vir gemeenskappe om hande te vat en politiek opsy te skuif en die kiem wat gemeenskappe verdeeld hou, dadelik te smoor. Die AfriForum-tak in Heilbron, begin reeds op 4 April 2022 saam met die gemeenskap van Phiritona en Sandersville om die hoofingang na Heilbron reg te ruk deur gras te sny, pad te vee en rommel te verwyder,” sê Gerrie Muller, AfriForum se takvoorsitter in Heilbron.

“Hierdie is nie die enigste projek wat deur die AfriForum-tak in Heilbron aangepak gaan word nie, maar die herstel van Piercestraat en herstel van straatligte is ook by die eerste vergadering bespreek en die nodige inligting is deurgegee aan die burgemeester. Ons vra reeds dat inwoners foutiewe straatligte sal merk deur ’n plastieksak om die paal te bind. Verseker net dat plastieksakke só gebind word dat dit nie loskom en die omgewing besoedel nie,” sluit Muller af.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, was dit baie bemoedigend dat die burgemeester bereid was om na die inwoners te luister. “Alle inwoners van Heilbron is nou keelvol vir swak dienslewering en wil graag net dienste kry waarvoor die munisipaliteit betaal word. Ek is baie opgewonde oor die gemeenskap wat gereed is om hande te vat om ‘n verskil in Heilbron te maak,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344(R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings