|

George-tak hou gebeurlikheidsbeplanning in Herold

Die AfriForum-tak in George het op 8 en 9 September ’n gebeurlikheidsbeplanning in Herold net buite George gehou, wat aangebied is deur genl.maj. Roland de Vries.

Die dag se beplanning het ten doel gehad om ’n eenheid vir gemeenskapsveiligheid te stig om groter samewerking tussen AfriForum, die plaaslike boereverenigings, privaat sekuriteitsmaatskappye en die GPF te bewerkstelling. Die eenheid bestaan uit verteenwoordigers van verskeie instansies wat taktiese reaksionêre, lugsteun en regsteun vermoë beskikbaar stel aan die gemeenskap. Hierdie eenheid het ten doel om ’n onafhanklike forum te skep, waarop verskeie lede van ander instansies saamwerk om hul omgewing te beveilig. Tydens hierdie beplanning is daar voorsiening gemaak vir die gemeenskap se beveiliging tydens onluste en soortgelyke bedreigings. Daar is ook verskeie sleutelroetes geïdentifiseer, wat deur dwelmhandelaars en vlugtende kriminele gebruik word.

“Hierdie inisiatief het ontstaan uit die nood vir gemeenskapsbeveiliging. Die aantal aanvalle in die Tuinroete neem toe met rasse skrede en dis nou belangriker as ooit om saam te staan en ons veiligheid in ons eie hande te neem,” sê Èduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George tak.

’n Slagoffer van ’n onlangse plaasaanval het ook die vergadering toegespreek en verduidelik hoe belangrik dit is vir ’n gemeenskap om hulself te beveilig teen hierdie geweld. Sy het benadruk hoe belangrik dit is om paraat te bly, om alle moontlike voorsorg te tref teen aanvallers en te verseker dat hulp ontbied kan word. Die gemeenskap is dikwels in staat om vinniger te reageer as die polisie of brandweer en kan sodoende lewens red.

“Dit is uiters bemoedigend om te ervaar hoe ’n gemeenskap bymekaar kan kom en vir ’n gesamentlike doel staan,” sê Kemp Myburg, ondervoorsitter van AfriForum se George-tak. “Hierdie geleentheid het ’n belangrike netwerk geskep vir die gemeenskap om nuwe rolspelers te ontmoet en mekaar se hande te versterk. By AfriForum glo ons dat gemeenskapsveiligheid ’n gesamentlike doel is en hoewel niemand alles kan doen nie, kan almal iets doen.”

Skakel Naudé by 082 563 1489 vir meer inligting of stuur ’n e-pos na george@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings