| |

AfriForum se Uitenhage-tak takel die skoonmaak van historiese bakens in dié dorp

AfriForum se Uitenhage-tak het die afgelope Saterdag (30 September) in samewerking met ander plaaslike organisasies, ’n skoonmaakaksie van belangrike historiese bakens in Kariega (voorheen bekend as Uitenhage) aangepak. Dit is gedoen as deel van die #OnsDorp-projek wat op ’n nasionale vlak deur AfriForum-takke aangepak word. Vrywilligers het die dorp se markplein en die Anglo-Boereoorlogmonument op dié plein skoongemaak en ’n muur langs die monument geverf.

Volgens Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is die bewaring van erfenisbakens en -terreine noodsaaklik en juis daarom is besluit om met hierdie skoonmaakaksie op die instandhouding van historiese bakens in hierdie historiese dorp te fokus. “Ons moet onthou waar ons vandaan kom, sodat ons kan weet waarheen ons op pad is,” verduidelik Van der Walt.

Van der Walt voer aan dat die onderlinge samewerking tussen gemeenskappe en organisasies in projekte soos dié, hoop skep. “Dit gee vir ons hoop dat gemeenskappe, ten spyte van die regering se mislukkings, wel sterk kan staan. Die aanpak van aksies met ’n fokus op die gemeenskap is daarom noodsaaklik in die skep van ’n beter toekoms,” sê Van der Walt.

“Ons nooi die gemeenskap uit om aan te sluit by die Uitenhage-tak en saam te help bou aan ’n beter toekoms,” sê Tania Pienaar, voorsitter van AfriForum se Uitenhage-tak.

Soortgelyke plasings