AfriForum se Upington-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Upington het vyf bome by Jogebed Kinderhuis en twee bome by Belle Rio-aftreeoord as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek geplant.

Volgens Steven van Tonder, voorsitter van AfriForum se Upington-tak, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uit die aard van die saak ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand het die perfekte geleentheid gebied om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Upington onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” sluit van Tonder af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings