water

AfriForum se volgehoue druk op munisipaliteit verseker gemeenskap van water

Die volgehoue druk wat die AfriForum-takke in Dealesville en Hertzogville op die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit geplaas het, het uiteindelik vrugte afgewerp. Die gemeenskap was vir weke sonder water weens wanbetaling aan Eskom, maar op 7 Julie het die munisipaliteit uiteindelik die uitstaande rekeninge betaal en die wateraansluitingspunt is deur Eskom aangeskakel.

AfriForum het hul regspan genader nadat ’n klag by die Menseregtekommissie ingedien is omdat die gemeenskap ontneem word van skoon drinkwater. Die munisipaliteit het in hierdie tydperk geen bystand verleen aan die gemeenskap nie en die AfriForum-takke en gemeenskapslede het die publiek van water voorsien.

“Dit is ’n groot verligting dat die rekeninge betaal is, want dit het ’n groot probleem in dié dorpe veroorsaak. Die gemeenskap kan nie verantwoordelik gehou word en ontneem word van hul basiese menseregte weens die munisipaliteit se wanbetaling nie. AfriForum sal die situasie monitor en indien dit weer opduik, sal ons verder met ons regspan konsulteer om die skuldiges tot verantwoording te bring. AfriForum se volgehoue druk het vrugte afgewerp en dit gee ons hoop om voort te gaan om die gemeenskap te dien,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om by jou plaaslike AfriForum-tak aan te sluit en saam hoop te skep.

Soortgelyke plasings