|

Bloemfontein-takke skep ’n veiliger en skoner stad

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het tydens Junie verskeie skoonmaakprojekte en veiligheidsinisiatiewe aangepak in Langenhovenpark, Uitsig, Universitas, Wilgehof, Hospitaalpark, Rayton-Heuwelsig, Bloemfontein-Noord en Fichardtpark.

In Fichardtpark het die tak ’n privaat kontrakteur, Waste Retrievers, aangestel om die buurt se vullissakke te verwyder wat die munisipaliteit versuim het om te doen. Altesaam is agt groot trokvragte vullis verwyder. Die AfriForum kontrakteurs het ook in hul rotasie-week in Fichardtpark gefokus om die vullis wat rondlê in Benadeweg, Olive Grinterweg, Hudsonweg en Castelynweg. Verder is daar gefokus om sypaadjies en stormwaterdreine skoon te maak by die Fichardtpark-kliniek, die NG kerk Fichardtpark en om die Hoërskool Fichardtpark.

In Uitsig, Generaal De Wet en Pellissier is vullis opgetel wat in die strate gelê het, sowel as in die parkie waar rommelversamelaars deur rommel sorteer en nie altyd die park skoonmaak ná die tyd nie. In Hospitaalpark is daar gefokus om die onkruid te verwyder in Pasteurrylaan sowel as die sypaadjies skoongemaak.

Nadat die Bloemfontein-takke reeds volgehoue druk op die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit geplaas het oor die vullissakke wat nie verwyder word nie, is ’n saak by die Menseregtekommissie ingedien. ’n Brief is ook aan die munisipaliteit gestuur weens die swak bestuur en toestand van die vullisterreine in Bloemfontein.

Die Rayton-Heuwelsig-tak het reeds drie parke as deel van hul volhoubare skoonmaakprojek skoongemaak en word in hierdie projek ondersteun deur Anchor of Hope. Die parke wat tans deur die tak skoongemaak word, is die parke in Lucas Steyn- en Flockemanstraat en David Bothasingel. Hierdie tak het ook hul jongste volhoubare skoonmaakprojek afgeskop in Reyneckelaan en hierdie aksie vind in samewerking met City Run plaas.

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag het op 25 Junie ’n suksesvolle operasie saam met AfriForum se lugsteunvleun gehou, waartydens verdagtes vasgetrek is wat in besit was van brandstof wat gesteel word uit vliegtuie by die Tempe-lughawe. Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig. Verskeie klagtes is teen die verdagtes geopen en die saak word verder deur die polisie ondersoek.

Altesaam 160 patrollies is deur 54 patrollielede afgelê in Junie. Die volgende voorvalle is hanteer en aangemeld:

  • Die Rayton-Heuwelsig-buurtwag het ’n groot veldbrand geblus en ook sewe hawelose mense uit ’n bos verwyder wat ’n moontlike risiko vir inwoners kon inhou.
  • Die Uitsig-buurtwag het die plaaslike brandweer bygestaan tydens ’n veldbrand; die brand is suksesvol geblus.
  • Bloemfontein-Noord se buurtwag het gesteelde lugversorgingdeenhede en hekmotors gevind. Die verdagtes is gearresteer en aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.
  • Sektor vyf se Fichardtpark- en Pellissier-buurtwag het die SAPD bygestaan tydens ’n skietvoorval. Hulle het gehelp om die area te beveilig waar AfriForum se lugsteunvleul ontbied was met die soektog na gewapende verdagtes met behulp van hul nagsig-hommeltuig.

AfriForum se Bloemfontein-takke se sekuriteit- en mediese vennote, VR Security en VR Medical staan ook die AfriForum 911-voertuie by. Die AfriForum 911 reaksie-eenheid het AfriForum-lede bygestaan met 47 klagtes en die mediese reaksievoertuig het die gemeenskap bygestaan met 28 noodgevalle wat motorongelukke en ander mediese noodgevalle insluit.

Die AfriForum-takke doen ook sedert verlede jaar deurlopende instandhoudingswerk by die President Brand-begraafplaas en die Brits-monument by die Ou Presidensie en word bygestaan deur Anchor of Hope.

“Veiligheid en netheid bly ’n prioriteit vir ons gemeenskap. Hierdie suksesse is ook te danke aan ons buurtwaglede se harde werk om die gemeenskap te bedien. Ons het uitstekende verhoudings met verskeie sekuriteitsmaatskappye en ons moedig ondernemings en ander lede van die gemeenskap aan om ons hande sterk te maak deur betrokke te raak by hierdie projekte. Ons almal streef na ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms nie net vir onsself nie, maar ook vir ons kinders,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum se vullisverwyderingsdienste het reeds op 1 September 2020 begin weens die munisipaliteit se versuim om hierdie basiese diens te verrig en talle AfriForum-lede en nie-lede maak gebruik van hierdie vullisverwyderingsdiens. Gemeenskapslede word ook aangemoedig om aan te sluit sodat hulle verseker kan wees dat hul vullis op tyd opgetel sal word.

“Ek wil ook almal aanmoedig dat indien hulle voor hul erf skoonmaak om ook die sypaadjies en velde voor hul woning so skoon as moontlik te hou. Dit sal reeds bydra tot ’n mooier en skoner woonbuurt waarop almal kan trots wees,” sê Groenewald.

Volg gerus die skakel om aan te sluit by AfriForum se vullisverwyderingsdienste.

SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit en saam hoop te skep.

Soortgelyke plasings