|

AfriForum-buurtwagte in noordstreek hou nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 8 Julie 2022 in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.

In Gauteng, Limpopo en Mpumalanga het 618 patrolleerders altesaam 33 083,25 km in 212 voertuie afgelê.

Honderde AfriForum-lede en ander instansies het deelgeneem aan hierdie inisiatief en bygedra tot die reusesukses daarvan.

Die doel van die nasionale patrollie is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer, om hoë sigbaarheid te handhaaf en om samewerking tussen veiligheidsrolspelers op plaaslike vlak te verbeter.

Die buurtwagte het op altesaam 41 voorvalle gereageer gedurende die patrollie. Daar is onder meer hulp verleen tydens ’n bevalling, ses verdagtes is in samewerking met die  SAPD in hegtenis geneem en daar is ondersteuning gebied op die tonele van 17 motorongelukke.

“Dit is baie duidelik uit die voorvalle wat ons saam met statutêre rolspelers hanteer het dat samewerking op grondvlak noodsaaklik is. Dit is verder ook mooi om te sien hoe verskillende gemeenskappe saam staan teen misdaad. Omdat ons almal hierdeur geraak word, kan ons nie anders as om saam te werk nie. Daar is plek binne ’n buurt/plaaswag vir elke lid van die publiek en die oomblik wanneer iemand sy rol binne die struktuur kry, dra daai persoon by tot die weerbaarmaking van ’n gemeenskap,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid in die noordstreek.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings