|

AfriForum se Vryburg-buurtwag trek nuwe baadjie aan

Die AfriForum-buurtwag in Vryburg lewer reeds die afgelope ses jaar ’n waardevolle bydrae om misdaad in die omgewing te bekamp. Aangesien nuwe uitdagings egter onlangs ondervind is, het die buurtwag besluit om hul strategie te verander sodat hulle die dorp beter kan beskerm.

Voorheen het patrollielede die hele dorp vir twee ure lank gepatrolleer. Die dorp is nou in sones verdeel, wat beteken dat patrolleerders slegs die sone waarin hulle woonagtig is patrolleer. Elke patrollie sal dan ook net ’n uur lank duur. Dus is daar meer patrollievoertuie in die dorp teenwoordig en is lede in staat om hul eie wonings en gesinne beter op te pas.

Die groep patrolleerders wat voorheen beskikbaar was vir inwoners wat nie self patrollie kan ry nie, is ook nou volgens die kleiner sones verdeel. Daar word nie van inwoners verwag om patrollie te ry nie, maar wel om as die oë en ore van die dorp op te tree. Selfs bedags is dit nodig om paraat te wees, aangesien misdaad nie meer net snags gepleeg word nie.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, bedank die AfriForum-buurtwaglede vir hulle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap en moedig alle inwoners van Vryburg aan om onverwyld by die buurtwag aan te sluit.

“Saam is ons sterker en kan ons die misdaad uit ons dorp verdryf. As elkeen sy klein deel bydra, sal die lading vir almal minder wees en kan ons die dorp deurlopend beveilig. Ons kan nie slegs op ’n paar vrywilligers staatmaak nie – ons het elkeen ’n verantwoordelikheid teenoor ons gemeenskap.”

Inwoners kan die buurtwag se noodnommer by 079 129 5510 skakel tydens ’n noodgeval.

Word vandag nog deel van Vryburg se AfriForum-buurtwag: Skakel Rudi by 083 285 2276 of stuur ’n e-pos na vryburgbuurtwag@gmail.com.

Soortgelyke plasings