|

Durbanville se AfriForum-tak blaas nuwe lewe in vervalle skaatspark

Nóg hande nou benodig

’n Vervalle baken in Durbanville, bekend as ’n brandpunt van misdaad, het nou vir die eerste keer in jare nuwe lewe gekry. Die Durbanville-skaatspark, geleë op die hoek van De Villiersweg en Van der Byllaan, is vroeër vandeesmaand opgeruim toe vrywilligers betrokke by AfriForum se Durbanville-tak hier ingegryp het.

Dié gemeenskapsgebaseerde aksie is die afgelope Saterdag (11 November) aangepak. Die doel van die projek was, volgens Leendert Stoop, voorsitter van die Durbanville-tak, om deur middel van ’n praktiese aksie weer trots in dié buurt te hervestig.

Die tak het die algehele opruiming van die skaatspark met ywer aangepak. Gras is gesny, onkruid is verwyder en die oppervlak van die skaatsbaan is ook opgeruim nadat dit deur vandale bemors en beskadig is. Alle tekens van misdadigheid, soos oorblyfsels van gebrande koperkabels, is ook van die terrein af verwyder.

Hierdie opknappings- en opruimingsprojek is aangepak deur AfriForum-vrywilligers sowel as persone betrokke by MES se rehabilitasieprogram, bekend as GROW. ’n Plaaslike tuindiensmaatskappy Altar-tuindienste het op hul beurt ’n finansiële bydrae tot die projek gemaak, terwyl die vullisverwyderings- en herwinningsmaatskappy, WastePlan, alle rommel wat hier op geruim is, verwyder het. AfriForum se Durbanville-buurtwag en die sekuriteitsmaatskappy Civil Defence Force (CDF) het die projek ondersteun en almal betrokke se veiligheid tydens die skoonmaakaksie verseker. Dié groepe se betrokkenheid beklemtoon die waarde van samewerking tussen die gemeenskap, organisasies en plaaslike besighede.

“Dit is opwindend om te sien hoe die gemeenskap aktief deelgeneem het om ’n verskil te maak,” verduidelik Stoop. “Ons wil graag weer die skaatspark tot sy volle glorie herstel sodat jongmense hierdie ruimte weer kan benut en in ’n veilige omgewing kan ontspan. ’n Gemeenskap wat saamstaan is sterker – daarom nooi ons die inwoners van Durbanville uit om nou betrokke te raak by die herstel en instandhouding van dié park sodat ons hierdie ideaal vir ons kinders kan verwesenlik.”

Volgens Stoop werp Durbanville se nuutgestigte buurtwag ook reeds vrugte af. Buurtwaglede ry daagliks patrollies en pak op hierdie manier sigbare polisiëring aktief aan. Hierdie aksies, wat in samewerking met plaaslike privaat sekuriteitsmaatskappye en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) getakel word, het reeds ’n merkbare verskil in die voorkoms van misdaad in die Durbanville-sakesentrum tot gevolg.

Lede van die publiek word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit om sodoende hul omgewing te help beveilig en waarde toe te voeg. Kontak Leendert Stoop by 074 513 6199 of stuur ’n e-pos na durbanville.voorsitter@afriforumtak.co.za om by hierdie tak in te skakel.

Soortgelyke plasings