|

AfriForum en AmaBhele kaJamangile smee bande

Die burgerregteorganisasie AfriForum en verteenwoordigers van die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla het samewerking bespreek tydens ’n vergadering by Mqokolweni Groot Plek naby Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap. ’n Ooreenkoms is bereik om saam te werk aan landbouontwikkeling en om ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms gegrond op wedersydse erkenning en respek te sluit.

“Ons voorouer, iNkosi Jamangile, was bekend vir die bevordering van landbou, opvoeding en Christenskap wat die fundamentele pilare van ons koninklike familie geword het,” sê iNkosi Zwelothando Mabandla, iNkosi van die AmaBhele kaJamangile Tradisionele Gemeenskap. Hy is ook die stigter van die Zwelothando Ontwikkelingstrust wat ten doel het om die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap te bevorder.

“Goeie verhoudings tussen kultuurgemeenskappe is ’n voorwaarde vir langtermyn vreedsame naasbestaan van kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika. Die beste manier om goeie verhoudings te bou is om saam te werk aan projekte, om uitdagings saam aan te pak en sukses saam te bereik. Ons is opgewonde oor die vooruitsigte van die bande wat ons gesmee het,” sê Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum.

“Ons is in die proses om ’n selfstandige gemeenskap met veiligheids-, opvoeding-, gesondheids-, ontspannings- en kinderspeelfasiliteite te skep. Die visie is om ’n nuwe intelligente landboubuurt te bou om die gemeenskap op te hef en om aan families die geleentheid te bied om deel van ’n gemeenskap te wees wat verantwoordbaar is aan mekaar terwyl voedselsekerheid, landelike ontwikkeling en armoedeverligting geprioritiseer word. Selfstandigheid is diep gewortel in ons kulture; ek sien ’n geleentheid om dit te laat herleef deur die instelling van tradisionele leierskap ná COVID-19,” sê iNkosazana Bhelekazi Mabandla, hoof van Koninklike Diplomatieke Dienste van die Jamangile kaMabandla Koninklike Familie.

Tradisionele leierskap is ’n belangrike gemeenskapsinstelling van tradisionele gemeenskappe en het ’n noodsaaklike rol om te speel om taal, kultuur en erfenis te bewaar. Dit is belangrik vir die behoud en ontwikkeling van kulturele identiteit en die volhoubare voortbestaan van selfstandige gemeenskappe.

“Wanneer ons sê ‘ons sal self, maar nie alleen nie’, kies ons om nie van die staat afhanklik te wees om die toekoms te skep wat ons graag wil hê nie – maar ons erken dat ons die ondersteuning van vriende nodig het om ’n toekoms te skep waar die kinders van ons kultuurgemeenskappe vry, veilig en voorspoedig kan leef,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings