|

AfriForum sit voorbereiding vir litigasie voort ná Nasionale Vergadering Bela-wetsontwerp aanvaar

In reaksie op die aanvaarding van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) deur die Nasionale Vergadering, sê AfriForum dat dit duideliker as ooit is dat die ANC-regering hierdie wetsontwerp deur alle prosesse probeer stoomroller. AfriForum sit daarom voorbereiding vir litigasie daarteen voort.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, moet die Nasionale Raad van Provinsies en die President nog oor die wetsontwerp besluit. Eers nadat hulle dit goedgekeur het, kan dit geïmplementeer word. “Ons besef die ANC wil dit ten alle koste deurvoer, en ongelukkig sal dit ten koste van die jeug van die land en veral die Afrikaanse jeug wees,” verklaar Bailey.

AfriForum het vandag saam met ander instellings en politieke partye voor die parlement teen die wetsontwerp betoog. AfriForum maak al sedert 2017 beswaar teen aspekte daarvan wat ouers se seggenskap oor die taal- en toelatingsbeleid van hulle kinders se skole sal beëindig. AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n direkte aanval teen Afrikaanse onderrig, wat uiters negatiewe gevolge vir gehalte onderrig in veral Afrikaanse enkelmedium, maar uiteindelik ook alle Suid-Afrikaanse skole sal hê.

“Die minister van Basiese Onderwys, die adjunk-minister en ANC-lede van die portefeuljekomitee wat reeds die wetsontwerp goedgekeur het, maak geen geheim daarvan dat hulle ’n einde aan Afrikaanse skole wil bring nie – ’n stap wat in effek ’n einde aan moedertaalonderrig in alle tale buiten Engels in die land sal bring. Daarbenewens kan die wetgewing hulle dan bemagtig om bestaande skole voller te stop, in plaas daarvan om wanfunksionele skole reg te ruk en meer skole te bou – nog ’n stap wat gehalte onderrig in die land sal ondermyn,” verduidelik Bailey.

“Die wetsontwerp sal meer mag in die onbevoegde hande van die staat sentreer en gemeenskappe se betrokkenheid by hul skole deur middel van demokraties verkose beheerliggame betekenisloos maak. Tans kan die beheerliggame finaal oor skole se taal- en toelatingsbeleid besluit, maar hierdie wetsontwerp stel voor dat dié mag voortaan by die provinsiale hoofde van onderwys moet berus, met ander woorde by politieke aanstellings. Daar word verklaar dat dit nodig is om diskriminasie teen leerders te voorkom, maar dit is blatante oëverblindery, aangesien die bestaande wetgewing voorsiening maak vir die nodige stappe om diskriminasie stop te sit, indien dit sou voorkom.”

Dit is onaanvaarbaar dat daar politieke speletjies ten koste van die jeug gespeel word en daarom sal AfriForum alle moontlike nasionale en internasionale stappe volg om Bela teen te staan.

Soortgelyke plasings