AfriForum slaag om Lesufi se verskoning aan AfriForum ’n bevel van die hof te maak

AfriForum het daarin geslaag om ’n hofbevel in die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof in Johannesburg te bekom wat die skikking waarin Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, sy spyt uitgespreek het oor sy valse bewering teen AfriForum en waarin hy sy bewerings terugtrek dat AfriForum ’n sluipmoord op hom wou voer en sy kinders agtervolg het, ’n bevel van dié hof maak. Lesufi het AfriForum se aansoek nie teengestaan nie.

’n Uitreksel van die mediaverklaring wat kragtens die hofbevel uitgereik is en wat nou deel van die hofbevel gemaak is, lees soos volg:

“The Member of the Executive Committee, Mr Panyaza Lesufi (“MEC”) regrets that he had made utterances on 24 November 2019 that gave the impression that AfriForum had attempted to assassinate him and had been stalking his children. In consequence, the MEC retracts those utterances.”

AfriForum het besluit om die skikking wat gedurende Oktober 2021 met Lesufi bereik is, ’n hofbevel te maak nadat Lesufi ná die skikking in die media ontken het dat hy verskoning aangeteken het en aangehou het om valse bewerings oor AfriForum te maak.

Die skikking bepaal dat enige van die partye, ingeval van ’n verbreking van die ooreenkoms deur die ander party, die hof kan nader om die skikking ’n bevel van die hof te maak.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beteken die feit dat die skikking met Lesufi nou ’n hofbevel gemaak is, dat Lesufi hom nou aan minagting van die hof skuldig sal maak sou hy die skikking weer op enige wyse misken. Kriel het daarop gewys dat AfriForum se regspan aanbeveel het dat die skikking ’n hofbevel gemaak word, aangesien die moontlikheid van ’n minagtingsklagte as kriminele saak groter afskrikkingswaarde het  as net nog ’n siviele lastersaak.

“AfriForum is ten gunste van openbare debat, maar blatante leuens oor ernstige sake,  sluipmoordaanvalle en die agtervolging van kinders, is nie meer debatvoering nie, maar onregmatige gedrag wat nie deur AfriForum geduld kan word nie,” het Kriel bygevoeg.

Die skikking wat nou ’n hofbevel gemaak is, het gevolg nadat AfriForum met regstappe begin het nadat Lesufi op 24 November 2019 tydens ’n mediakonferensie in Johannesburg valslik aangevoer het dat AfriForum ’n sluipmoord op hom wou uitvoer en sy kinders agtervolg het. Volgens Kriel het die feit dat Lesufi sy spyt oor die uitlatings uitgespreek het en die feit dat hy sy bewerings amptelik terugtrek het, bevestig dat die bewerings teen AfriForum niks anders as blatante leuens was nie.

Die skikking is nie vroeër bekendgestel nie omdat daar ’n vertroulikheidsbepaling in was, maar Lesufi het die vertroulikheid misbruik om sedertdien die skikking te repudieer en te ontken dat hy ooit die dispuut met AfriForum geskik het. AfriForum het dus geen ander keuse gehad om nou die hof te nader kragtens die bepalings van die skikking en dit ’n bevel van die hof te maak nie.

Soortgelyke plasings