|

Sukses: Waterregulasies wat onteiening beoog teruggetrek

Die voorgestelde nuwe regulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes en gepaardgaande waterhulpbronbestuursplanne wat onlangs deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) voorgelê is, is teruggetrek.

Dit nadat AfriForum sterk kapsie gemaak het teen die voorgestelde regulasies aangesien dit nie net ontspanningswatergebruikers soos hengelaars, boot- en seiljagvaarders, toerisme-operateurs en oewer-grondeienaars se gevestigde regte sou vertrap nie, maar ook sou neerkom op ’n growwe oorskryding van regeringsmag.

Die DWS het gister in ’n kort mediaverklaring gesê daar is besluit om die voorgestelde regulasies terug te trek ná behoorlike oorweging van die publiek se kommentaar wat gedurende die publieke deelname proses ontvang is. DWS is van voorneme om hersiende regulasies rakende watergebruik vir onstspanningsdoeleindes uit te reik nadat alle kommentare behoorlik hersien is.

Hoewel AfriForum die terugtrekking van die voorgestelde regulasies as ’n oorwinning vir die beskerming van die publiek se grondwetlike regte beskou, sal AfriForum onverpoosd aanhou om sy waghond funksie te vervul. “Die ANC-regering het gewys dat hulle nie sal skroom om hulle mag te misbruik ten einde ’n eng ideologiese agenda te bevorder nie, selfs al moet ’n hulpbron so fundamenteel soos water as ’n politieke wapen ingespan word,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

“Die positiewe gevolg is dat belastingbetalers se geld nie verder vermors sal moet word om die voorgestelde regulasies in die howe te beveg nie – sou die regulasies gepromulgeer word. Dit is nogtans betreurenswaardig dat die minister in die eerste plek sy goedkeuring vir die voorgestelde regulasies gegee het, terwyl dit strydig is met die Nasionale Waterwet en ’n oorskryding van sy magte was,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings