|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

’n Hofbevel is vandeesweek aan AfriForum toegestaan wat Panyaza Lesufi in groot moeilikheid sal laat beland indien hy aanhou om leuens oor dié burgerregteorganisasie te versprei. AfriForum het ook gehelp om ’n groot oorwinning vir Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch (US) te behaal en AfriForum-takke in verskeie dorpe het weereens ingespring om hul dorpe te verfraai.

AfriForum het ’n hofbevel in die Johannesburgse Hooggeregshof teen Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, gekry. Lesufi het vroeër beweer dat AfriForum ’n sluipmoord op hom beplan het en sy kinders agtervolg. Lesufi het ontken dat hy AfriForum om verskoning gevra het ná die partye ’n skikking bereik het. Die skikking is nou ’n bevel van die hof gemaak.  Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal Lesufi hom nou aan minagting van die hof skuldig maak as hy weer die skikking op enige manier sou misken.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het bevind dat die Universiteit van Stellenbosch (US) ’n menseregteskending begaan het deur studente te verbied om Afrikaans by sosiale geleenthede te praat. Die SAMRK het die US verplig om skriftelik in die openbaar ’n verskoning uit te reik. AfriForum Jeug dring daarop aan dat dié verskoning maksimum sigbaarheid kry om wyer dekking te gee as bloot die studente wat te na gekom is. Die deurbraak volg ná deurlopende volgehoue druk van AfriForum om studente se reg te beskerm om Afrikaans by die US te praat.

René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug

AfriForum se Middelburg-tak het ’n hommeltuig bekom wat aangewend gaan word om misdaad te bekamp. Dit sal ook gebruik word om die SAPD by te staan tydens onluste en om met soek-en-reddingsaksies te help. Forum Sekuriteit het gehelp om hommeltuigvlieëniers op te lei om dié hommeltuig binne die raamwerk van die wet te gebruik. Hierdie tak het ook die erfenisterrein in Kareestraat opgeknap. Die gras by die konsentrasiekamp-kinderbegraafplaas is gesny en die algemene netheid van die terrein is verbeter.

AfriForum se Middelburg-tak het die erfenisterrein in Kareestraat opgeknap.

Verskeie AfriForum-takke het reeds groot sukses met hul tuinspanne behaal. Witbank het vandeesweek die jongste tak geword wat ’n tuinspan op die been gebring het. Die span bestaan tans uit twee lede wat met bossiekappers en ’n kettingsaag toegerus is. Hulle het reeds hul eerste skoonmaakprojek aangepak en die hoop is dat hulle die agteruitgang in dié dorp sal help stopsit. Die tak het ook vrugtebome aan twee skole geskenk na ’n behoeftebepaling gedoen is.

Soortgelyke plasings