|

AfriForum Sport begin Forum vir Atlete

Suid-Afrikaanse atlete word dikwels benadeel weens Atletiek Suid-Afrika (ASA) en ander amptelike sportliggame se swak ondersteuning van ons land se topatlete. Daarom het AfriForum Sport ’n Forum vir Atlete op die been gebring sodat dié organisasie atlete in samewerking met die privaat sektor kan help om alles tot hulle beskikking te hê om optimaal te presteer.

Volgens Ronald Peters, bestuurder by AfriForum Sport, het hulle besef dat al hou AfriForum Sport die land se sportliggame verantwoordbaar, is hierdie forum ’n voertuig waarmee atlete toegang tot die nodige hulpbronne kan kry om voldoende vir kompetisies en byeenkomste te kan voorberei en daaraan te kan deelneem.

AfriForum Sport het die afgelope paar jaar toenemend gesien hoe atlete van verskeie sportsoorte nie die nodige ondersteuning kry nie weens verskeie redes soos onder meer korrupsie en wanbestuur. Daarom is hierdie forum gestig en is verskeie vennote vanuit die privaat sektor betrokke wat atlete nie net moontlik finansieel kan ondersteun nie, maar ook kan help met byvoorbeeld optimale kondisionering of voeding.

“Die Forum vir Atlete is inderwaarheid die middelman tussen die privaat sektor en die atleet. Niel du Plessis van Braven Performance, PVM, Polar en Sweat Gear is van die rolspelers vanuit die privaat sektor wat reeds betrokke is om te help. Ons wil graag as hulpbron dien om atlete wat nie die nodige ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) of Atletiek Suid-Afrika (ASA) kry nie met die privaat sektor in kontak bring sodat hulle wel die land op die hoogste vlak kan verteenwoordig,” sê Peters.

Atlete kan op AfriForum Sport se webblad onder Forum vir Atlete ’n profiel skep en dit word gebruik om na die privaat sektor te gaan sodra die atleet se behoefte bepaal is.

Peters vertel dat hulle ’n ooreenkoms met die atlete het dat dit nie alombekend gaan wees wie almal op die platform geregistreer is nie weens die sensitiwiteit op sportfederasievlak.

“Ongelukkig bly ons in ’n land waar daar teen hierdie mense gediskrimineer gaan word indien die sportliggaam uitvind dat van die atlete deel is van hierdie forum. Daarom wil ons die privaatheid van die atlete soveel as moontlik beskerm.”

Baie van die topatlete hou op deelneem omdat hulle nie die nodige hulpbronne het nie en dit raak eenvoudig net te duur. Van die atlete moet twee tot drie werke doen net om byeenkomste te kan bywoon. Volgens Peters is dit daarom werklik belangrik dat atlete bemagtig word om optimaal te kan presteer.

Staatsonafhanklikheid is vir AfriForum baie belangrik. Daarom wil AfriForum Sport ook atlete help om onafhanklik van die staat te word en hulle te laat besef dit is moontlik en daar is mense in die privaat sektor wat hulle wil ondersteun.

Braven Performance het ook vir Peters uitgedaag om in November aan die halwe-ystermankompetisie in Mosselbaai te gaan deelneem om meer blootstelling te gee aan en fondse in te samel vir die Forum vir Atlete. Die doel van dié uitdaging – Projek Yster Slyp Yster – is om te bewys dat iemand wat nie topfiks is nie met die hulp en ondersteuning vanuit die privaat sektor hierdie uitdagende kompetisie in minder as ses uur kan voltooi. Dit sal as bewys dien dat professionele atlete nog beter kan vaar indien hulle die nodige ondersteuning ontvang.

Besoek AfriForum Sport se webblad om deel van die Forum vir Atlete te word of om by te dra.

Kyk hier na ‘n video van Esti Olivier, een van AfriForum Sport se ambassadeurs.

Soortgelyke plasings