|

AfriForum staan NGV-wetsontwerp teen tydens openbare verhore in Oos-Kaap

Verteenwoordigers van AfriForum se Oos-Londen-tak het op 12 Oktober die openbare verhore oor die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in Oos-Londen bygewoon en mondelingse kommentaar hieroor ingedien.

Volgens AfriForum is die wetsontwerp geheel en al onrealisties en onprakties. Benedict van der Byl, die beampte vir plaaslikeregeringsake by AfriForum se Oos-Londen-tak, het AfriForum se kommentaar voorgelê. Hierdie kommentaar wys op van die grootste bekommernisse wat AfriForum oor dié wetsontwerp het naamlik, die gebrek aan besonderhede oor hoe die NGV geïmplementeer sou kon word, wat dit sou kos en wie dit sou bestuur. Daarbenewens meen AfriForum sal die beoogde finansiering van die NGV ’n onhoudbare las op belastingbetalers plaas.

“Die regering moet eerder eerstens op ekonomiese groei fokus en die probleme in die huidige gesondheidstelsel takel as om te poog om ’n program soos die NGV van stapel te stuur. Die geld wat tans hieraan spandeer word, kan veel eerder op die regruk van bestaande openbare hospitale bestee word,” verduidelik Van der Byl.

AfriForum waarsku dat die NGV ’n duur fout kan wees, wat geen verbetering aan Suid-Afrika se gesondheidstelsel sal maak nie en dat dit eerder die gesondheidstelsel sal lamlê. Die meerderheid van beskikbare navorsing en ontleding toon dat die NGV ’n peperduur en vernietigende mislukking gaan wees.

“Ons versoek dat die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp sal verwerp voordat dit tot die verwoesting van gesondheidsorg in Suid-Afrika lei,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap .

Soortgelyke plasings