|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Voorpos as deel van Nasionale Boelievoorkomingsmaand

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 16 Oktober by Laerskool Voorpos in Waverley, Pretoria besoek afgelê as deel van Nasionale Boelievoorkomingsmaand. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“By Laerskool Voorpos word boeliegedrag nie geduld nie. Boeliegedrag breek leerders se selfbeeld-en emosionele welstand af, dus is dit vir ons baie belangrik om die leerders bewus te maak van boeliegedrag en dat dit ontoelaatbaar is by ons skool. Ons werk baie hard om ons skool se waardes in ons leerders te vestig en sodoende suksesvolle- en emosionele gesonde leerders die wêreld in te stuur,” sê Jeanette Fourie, tydelike departementshoof by die Laerskool Voorpos.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die gevare en gevolge van sosiale media en kuberafknouery is van kardinale belang en word ook met die leerders bespreek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings