AfriForum staan ​​voorgestelde Wetsontwerp op Terrorisme teen wat kan lei tot oorskreiding van regeringsmagte

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n mondelinge voorlegging voor die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie gedoen om die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite teen te staan. AfriForum het in Augustus 2022 skriftelike kommentaar teen hierdie voorgestelde wetgewing ingedien.

In die voorlegging het AfriForum dit duidelik gemaak dat die organisasie nie die goedkeuring van die Wetsontwerp in sy huidige vorm ondersteun nie. Verder het AfriForum ’n opdatering van die wet verwelkom in soverre dit poog om dit in lyn te bring met ontwikkelinge in die internasionale reg en uitsprake in die Konstitusionele Hof.

Verskeie bepalings in die wetsontwerp, wat van voorneme is om groter magte aan die polisie te verleen, maak onregverdig inbreuk op verskeie fundamentele regte, insluitend die regte op vryheid van uitdrukking en assosiasie; politieke vryheid, reg op privaatheid; tot gewetensvryheid; toegang tot inligting, ens. Verder het AfriForum aangevoer dat daar geen enkele internasionaal ooreengekome definisie van “terrorisme” is nie. Die wysiging maak die definisie van “terreuraktiwiteit” dus veels te wyd.

AfriForum het in sy mondelinge voorlegging voorbeelde aangebied wat wys dat die werklike probleem nie onvoldoende wetgewing is nie, maar effektiewe implementering van die bestaande wetgewing. Voorbeelde is ook ingesluit van hoe die wysiging misbruik kan word om standpunte te onderdruk wat die staat nie onderskryf of ondersteun nie.

“Die geskiedenis is belaai met voorbeelde van wetgewing wat misbruik word om kritici van regerings in hegtenis te neem en tronkstraf toe te dien onder die dekmantel van die bekamping van terrorisme. Dit is nog vars in die geheue van baie Suid-Afrikaners dat hierdie presiese taktiek ook deur die vorige regime gebruik is,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die regering se inperkings tydens die Covid-19-pandemie het bewys dat die toestaan ​​van meer mag en beheer aan die polisie en die regering onverstandig sou wees. Die bestaande wetlike raamwerk is voldoende. Die probleem is implementering en uitvoering deur staatsorgane in die lig van wydverspreide gebrek aan voldoende hulpbronne, korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing,” sluit Van Zyl af.

  • Kyk AfriForum se mondelinge voorlegging hier.

Soortgelyke plasings