|

Nuwe AfriForum-fliek bring hoop vir tieners wat geboelie word

AfriForum vier vanjaar die vyfde jaar van sy teenboelieveldtog met die kortfliek Die Val. Dis ’n fliek wat hoop skep vir tieners wat geboelie word en met selfdoodgedagtes worstel.

Die première van Die Val was gisteraand by die Atterbury-teater in Pretoria. Dit is met groot opgewondenheid ontvang.

Suné Swarts, ’n gr. 11-leerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, sê sy kan aanklank vind by die fliek. “Daar is baie kinders wat perfek voorkom, maar eintlik is hulle hartseer. Sulke mense voer ’n innerlike stryd en hulle vriende moet help,” sê sy.

Suné Swarts

Lara Erasmus, assistentprojekbestuurder en inhoudsredakteur van Afrikaans.com, sê boeliegedrag is tans een van die groot onderwerpe in skole. “Ek dink hierdie fliek kan ’n uitstekende instrument wees wat skole kan gebruik om die boodskap van boeliegedrag oor te dra.”

Nicolette Kritzinger en Lara Erasmus

Alhoewel dié fliek op tieners gemik is, sal dit ook aanklank by ’n veel groter gehoor vind. Ouers wat deel van die oplossing wil wees, kan gerus ook die fliek op AfriForumTV kyk.

“Word deel van die oplossing, los voetspore en skep saam met AfriForum hoop deur proaktief op te tree. Saam kan ons sorg vir vry, veilige en voorspoedige skole en gemeenskappe,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Leandie Bräsler, Katelynn Labonté (regisseur) en Tarryn-Tanille Prinsloo (draaiboekskrywer)

Bräsler en die AfriForum-teenboeliespan het landwyd reeds meer as 150 skole besoek. Hier het hulle nagenoeg 120 000 leerlinge, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers oor boeliegedrag en die impak daarvan toegespreek. Die doel van die besoeke is om te help om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan. In uiterste gevalle kan dit tot selfdood lei en dis een van die hoofredes waarom Die Val vervaardig is.

“Dit is vir AfriForum nie net belangrik om op bewusmaking van boeliegedrag te fokus nie, maar ook op die uitwerking van boeliegedrag soos depressie en dan natuurlik selfdood. Ons het dus besluit om vanjaar die teenboelieveldtog uit te brei deur bewusmaking te skep rondom die kwessie van selfdood. Ons doel is om skole en gemeenskappe te bemagtig met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag en gedagtes van selfdood hok te slaan,” meen Bräsler.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) was daar voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie 300 miljoen depressielyers wêreldwyd en daar was ’n skerp toename van meer as 18% tussen 2005 en 2015. In Suid-Afrika was daar voor Covid daagliks 23 mense wat selfmoord gepleeg het. Dis nagenoeg 8 000 mense per jaar wat hulle eie lewens neem. Vir elke persoon wat selfmoord pleeg is daar nog tien wat probeer het, maar nie daarin geslaag het nie. Die goeie nuus is dat depressie behandel kan word.

Ons jeug is deur ’n rowwe tyd en ek dink die wêreld word al hoe meer en meer uitdagend.

Bertha le Roux-Wahl, boekklubleier in Die Val, sê sy het haar tyd op die stel van die fliek baie geniet en besef hoe belangrik boelie- en selfdoodbewusmaking is. “Ons jeug is deur ’n rowwe tyd en ek dink die wêreld word al hoe meer en meer uitdagend. Vir kinders om bewus te wees dat hulle kan opstaan vir hulself en dat hulle kan praat as hulle seerkry én dat hulle geglo en gehelp sal word, is belangrik, want ons het ’n groot verlies weens selfdood van ons kinders.”

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelie- en selfdoodbewusmakingsveldtog besoek www.teenboelie.co.za. Om meer oor Die Val uit te vind, besoek www.dievalfilm.co.za. Skryf ook hier in vir die kompetisie, in samewerking met Finesse, wat van 10 tot 29 September aangebied word. Die prys is ’n plek op die #NetMatrieks-bootreis.

Die Val kan vanaf 10 September, wat ook Wêreldselfdoodbewusmakingsdag is, op AfriForumTV gekyk word. ’n Spesiale vertoning van die fliek, in samewerking met Pretoria FM, vind ook eerskomende Vrydag (9 September) om 18:00 by die Hoërskool Zwartkop plaas.

Soortgelyke plasings