|

AfriForum stig die Kamdeboo-tak in Graaff-Reinet

AfriForum het onlangs die Kamdeboo-tak gestig ná ’n beroep deur gemeenskappe in Graaff-Reinet, Willowmore en Aberdeen.

Die tak is reeds op 14 Oktober gestig maar die bestuurslede is onlangs aangewys. Die takbestuur is soos volg verkies: Rene Posthumus (voorsitter), Deon Muller (ondervoorsitter), Liana Hall Kirstein (sekretaris) en Ian Kirstein (tesourier).

David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder, het tydens die vergadering ’n volledige oorsig van die voordele en funksionering van AfriForum se veiligheidstrukture verskaf. Dit sluit onder meer geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en kosbare ervaring in.

“AfriForum wil Klub Libertas graag bedank vir die beskikbaarstelling van hul geriewe asook elkeen wat aangebied het om die Kamdeboo-streek se gemeenskap van diens te wees deur op die takbestuur te dien. Ons sien uit na die pad vorentoe en om saam met almal in dié streek in die Oos-Kaap weer eienaarskap vir die gemeenskap te vestig,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap.

“AfriForum se veiligheidspan staan gereed om die inwoners van Kamdeboo by te staan sodat hulle weer veilig kan voel en om ’n daadwerklike verskil in hul lewensomstandighede te maak. Ons is opgewonde want gesprekke en onderhandelinge met ’n gevestigde, plaaslike veiligheidstruktuur om kragte saam te snoer, het reeds ver gevorder. Meer inligting sal bekendgemaak word sodra dit afgehandel is,” sê Olivier.

Raak vandag nog by AfriForum se Kamdeboo-tak betrokke: SMS “Kamdeboo” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings