|

Nuuskommentaar: Vergelding versus geregtigheid in 2023

So aan die begin van ’n nuwe jaar hoop en glo almal dat dinge in die land beter sal gaan. Almal se wens en versugting is dat daar in die komende jaar meer geregtigheid, regverdigheid, verdraagsaamheid en wedersydse erkenning en respek vir mekaar en mekaar se omstandighede sal wees.

Dit is egter baie moeilik om te sê of ons dit gaan regkry. Aan die einde van verlede jaar was daar verskeie onaangename en selfs tragiese voorvalle wat mense om verskillende redes geskok en selfs gegrief gelaat het.

Die uiteindelike vrylating van die veroordeelde moordenaar Janusz Walus was een so ’n geval. Sy vrylating ná ’n beslissing deur hoofregter Raymond Zondo, dat hy ná baie pogings wel vir parool kwalifiseer, is gekelder toe ʼn medegevangene hom met ʼn skerp voorwerp in die tronk gesteek het. Daarna het politieke figure en partye geen geheim daarvan maak dat hul nie met Zondo se beslissing saamstem of dit aanvaar nie. Limpho Hani, weduwee van die SAKP-leier Chris Hani, wat in 1993 deur Walus doodgeskiet is, het gesê sy sal hom nooit vergewe nie. Kort daarna het lede van die EFF, Cosatu en die ANC die strate ingevaar om beswaar teen sy parool te maak terwyl Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, by meer as een geleentheid teen Walus se parool en selfs die regstelsel uitgevaar het.

Rondom Kersfees is die land weer geruk deur twee verskillende insidente.

’n Trokdrywer het met ’n tenkwa vol vloeibare petroleumgas onder ’n brug in Boksburg deurgery wat ontplof, tot pandemonium gelei én 37 mense dood gelaat het. Hy is nie in hegtenis geneem nie omdat die vervolgingsgesag bevind het hy glo nie nalatig opgetree het nie. Maar wie het dan? Wie móét aanspreeklikheid vir hierdie tragedie aanvaar?

By die Maselspoort-vakansieoord buite Bloemfontein het ’n onderonsie tussen ’n groep wit mans en swart tienerseuns uitgebreek. Dit is tot op hede onduidelik oor presies wat daar afgespeel het. Die drie mans is egter gearresteer en een word van poging tot moord aangekla en is op borgtog van R20 000 vrygelaat. Die saak hervat vandeesmaand.

Hoe ’n mens ook al na die verskillende insidente kyk, is dit duidelik dat Suid-Afrikaners in vele opsigte op breekpunt is.

Dit is asof daar toenemend eise vir vergelding eerder as kalm, rasionale denke is. Natuurlik is die konteks en omstandighede van die voorvalle nie dieselfde nie. Maar dieselfde beginsel behoort te geld, naamlik dat daar behoorlike ondersoeke moet wees en dat die reg sy verloop moet neem!

Maar dit is klaarblyklik hier waar die kinkel lê en die situasie by die dag versleg. Landsburgers voel daar is nie meer geregtigheid nie. Hul siening van geregtigheid verskil skynbaar hemelsbreed en diegene wat hulle oor dubbele standaarde uitspreek word as rassiste en as “anti-regering” gebrandmerk.

Waar laat dit ons in 2023? Waarskynlik nie op ’n goeie plek nie. En dit lyk of daar enorme eise aan gewone mense se geduld, verdraagsaamheid en selfs vergewensgesindheid gestel gaan word. Daar rus ’n reusetaak op elkeen van ons se skouers om die nuwe jaar met ’n gesindheid van verantwoordelikheid aan te pak. Ons kan nie omdat ons nie ’n regering het wat leiding in die verband neem, ook meegesleur word en deel van die anargie word nie. Te midde van die chaos het ons ’n duidelike plig om teen blatante rassisme, rassehaat én onreg op te staan.

Soortgelyke plasings