| |

AfriForum-tak bring sonkraglig inni donker strate tydens Innibos-fees – maak reusebydrae tot misdaadvoorkoming

Met die installasie van twintig sonkragligte om die Innibos Nasionale Kunstefees se feesterrein het AfriForum se Nelspruit-tak lig in verskeie voorheen pikdonker strate gebring en sodoende ’n reusebydrae tot misdaadvoorkoming gemaak in ’n gebied wat tydens vorige feeste swaar deurgeloop het onder misdaad, waaronder diefstal vanuit voertuie. Die tak het op Donderdag 27 Junie die ligte op strategiese punte in Fig Tree- en Kremetartstraat geïnstalleer.

Dié inisiatief vorm deel van AfriForum se voortdurende pogings om die veiligheid van gemeenskappe te verbeter en ’n positiewe bydrae tot openbare geleenthede te maak. Die Innibos Nasionale Kunstefees is die afgelope naweek, van 27 tot 30 Junie, in Mbombela (Nelspruit) aangebied.

“Die Innibos Nasionale Kunstefees is ’n hoogtepunt op ons stad se kalender en die veiligheid van feesgangers tydens ’n reusegeleentheid soos dié is daarom van kritieke belang vir die sukses van die fees wat jaarliks deur minstens 60 000 feesgangers bygewoon word,” benadruk Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.

“Ons het wel bevind dat misdaad rondom die feesterrein ’n groot probleem geword het en dat dit feesgangers se ervaring van die fees in vorige jare nadelig beïnvloed het. Die installasie van ligte was daarom ’n logiese besluit om misdadigheid in die parkeerareas rondom die feesterrein te probeer beperk,” verduidelik De Beer. “Die sonkragligte is só geplaas om die maksimum beligting vir feesgangers te verseker wat tydens vorige jare se fees in die donker na hulle voertuie moes terugkeer.”

Veiligheidsinligting van AfriForum se Nelspruit-buurtwag wat ook tydens die fees die omgewing gepatrolleer het, toon dat die ligte die voorkoms van misdaad help beperk het.

AfriForum se Nelspruit-tak het dus met die installering van die sonkragligte ’n trotse ’n bydrae tot die sukses van Innibos gemaak, meen De Beer. “Die welstand van ons gemeenskap is vir ons ’n prioriteit en ons glo dat hierdie bydrae beslis ’n positiewe impak op besoekers se feeservaring gehad het en ook help bou aan die toekoms van hierdie fees.”

Benewens die voordeel wat dié ligte in terme van misdaadvoorkoming bied, is die gebruik van sonkrag ’n manier waarop die AfriForum-tak volhoubare energiepraktyke ondersteun en die stad se afhanklikheid van tradisionele kragbronne verminder. Die ligte is tydelik op dié plekke opgerig en sal binnekort permanent elders in die stad opgerig word om steeds tot voordeel van dié gemeenskap te dien.

Jy kan ook ’n verskil maak!

AfriForum se Nelspruit-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by die tak se uiteenlopende projekte wat werklik ’n verskil in dié Laeveldse stad en omgewing maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings