|

Oos-Kaap-debatteerders sê hulle sê by die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders

AfriForum se Dink of Sink-span het op 4 Mei die eerste van ses streeksuitdunne vir die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders by die Hoërskool Framesby in Gqeberha aangebied.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Altesaam 51 hoërskoolleerders van agt hoërskole in die Oos-Kaap het aan die debatskompetisie deelgeneem. Die skole wat aan die debatskompetisie deelgeneem het, is Hoërskool Framesby, Hoërskool Despatch, Hoërskool Nico Malan, Global Leadership Academy, Die Brandwag Hoërskool, Hoërskool Pearson en Hoërskool D.F. Malherbe. Elkeen van die 17 spanne het deur die loop van die dag drie debatte oor verskeie onderwerpe gevoer wat aktuele kwessies in hulle omgewing en die land aanraak.

“Die leerders het met goed geformuleerde argumente, selfvertroue en goeie debatteringsvaardighede hul staal by die kompetisie gewys. Dit is ongelooflik om te dink dat vir vier van die skole dit die eerste keer was wat hulle deelgeneem het en te doen gekry het met die Dink of Sink-kompetisieformaat,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Hoërskool Framesby se Therese Otto, Micaela Potgieter en Luka Weber is as die junior kategorie se wenners aangekondig, terwyl Hoërskool Framesby se Minette van Zyl, Jani van Heerden en Jemima Oosthuizen die naaswenners is. In die senior kategorie het Hoërskool Pearson se Joubert Steyn, Anke Rossouw en Elana de Villiers geseëvier en Die Hoërskool Brandwag se Marné Koen, Jamie-Lee de Jager en Haylee Botha as naaswenners gekroon is.
Hoërskool Framesby en Hoërskool Pearson dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria plaasvind.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die toewyding wat die hoërskoolleerders toon in hul voorbereiding. Ons sien baie uit vir ’n naelbyteindstryd in Oktober wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings