|

AfriForum-tak gryp self in om watertenk in Schonkenville te herstel

Ten spyte van die voortslepende waterkrisis in Parys, hou die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit hul skynbaar steeds doof vir inwoners se klagtes. Dit was verlede week wéér die geval nadat ’n lekkasie by ’n watertenk in die Schonkenville-voorstad in dié Vrystaatse dorp verskeie kere aangemeld is, maar die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit geen poging aangewend het om die lekkasie te herstel nie. AfriForum se Parys-tak het egter self ingegryp en Vrydag (27 Oktober) die gat herstel.   

Inwoners van die voorstad voer aan dat die lekkasie al maande lank ’n probleem is. Roes wat boonop reeds by die tenk gevorm het, bevestig hierdie inligting. Intussen het die munisipaliteit inwoners se klagtes geïgnoreer en aangehou om water na Schonkenville te pomp. Die enkele kere wat daar water na dié tenk gepomp is, het die kosbare inhoud by die gat uitgestroom.

Teen Vrydag het die tak genoeg gehad en self ingegryp om die gat te herstel. Die tenk was in daardie stadium leeg en het daarom die ideale geleentheid vir die hersteloperasie gebied. Daar is egter nog nie weer intussen water daarheen gepomp om te bepaal of die gat nou na behore geseël is nie.

“Dit gaan my verstand te bowe dat die munisipaliteit water so kan mors terwyl daar ’n reusewaterkrisis is. Daar is regtig geen wil by hierdie munisipaliteit om dit vir die inwoners beter te maak nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Schalk Burger, Parys-takvoorsitter, is daar ’n groot bestuurskrisis by Ngwathe. “Niemand weet wat aangaan nie en daarom doen niemand ook iets nie. Dis regtig onaanvaarbaar en uiters kommerwekkend,” sluit Burger af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak. Kontak Burger by 081 392 2071 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings