|

Regmatige hoof van die Seleka Barolong deur hof erken na dekade lange leierskapstryd

Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het vandag in ’n uitspraak vir prinses Gabo Moroka as regentes van die Seleka Barolong tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu, oos van Bloemfontein erken en die premier van die Vrystaat beveel om die nodige stappe te neem om haar erkenning te finaliseer. Die respondente, waaronder die premier, is ook beveel om die koste van die aansoek te betaal. Die Premier het oorspronklik die aansoek geopponeer, maar ’n kennisgewing van onttrekking asook berusting by die bevel van die hof is etlike dae later geliasseer. Prinses Gabo en die koninklike familie is deur AfriForum ondersteun in dié dringende hofaansoek om die premier van die Vrystaat te verplig om prinses Gabo as regentes van die gemeenskap te erken nadat die Premier nie op die familie se aansoek om erkenning gereageer het nie.

Die koninklike familie se stryd om hul regmatige plek as leiers van die gemeenskap te behou het in 2013, na die afsterwe van hul familielid, opperhoof Gaopalelwe Moroka, begin. ’n Dispuutgroep, wat ontevrede was met die aanwysing van ’n vrou as opperhoof, het die regmatigheid van die familie bevraagteken en in stryd met die familie getree.

Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, het die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -Eise destyds opdrag gegee om die dispuut te ondersoek. Tydens hierdie ondersoek het die dispuutgroep die gronde van hulle beswaar gewysig en aangevoer dat die regerende koninklike familie se aanspraak op die leierskap ongeldig is weens die beweerde onbehoorlike opvolging van opperhoof Moroka II deur opperhoof Tshipinare Moroka in 1880, meer as 140 jaar gelede. Op grond van ’n baie gebrekkige verslag deur die Kommissie het Magashule besluit om die leierskap van die regerende koninklike familie te beëindig en die leierskap na die dispuutgroep oorgedra.

Op 31 Maart 2022 het die Hoogste Hof van Appèl egter ten gunste van die koninklike familie beslis en die kommissie se verslag en die premier se besluite is ter syde gestel. Die koninklike familie het daarom op 3 April 2022 vir prinses Gabo Moroka as regentes geïdentifiseer en ’n aansoek om erkenning op 10 April by die premier ingedien. Die aansoek is skriftelik opgevolg op 11, 19 en 26 Mei maar geen stappe is deur die premier geneem nie en die familie was genoodsaak om die hof op ’n dringende grondslag te nader om te verseker dat prinses Gabo die gemeenskap kan verteenwoordig tydens die hersamestelling van die Vrystaatse Provinsiale Huis van Tradisionele en Khoi-San leiers, wat op 14 Junie 2022 plaasvind.

“Dié leierskapstryd het nooit oor ’n individu gegaan nie. Ons familie het dié gemeenskap as leiers gedien oor geslagte heen, die dienende leierskap is die kern van ons identiteit as koninklike familie. Ons het deurgedruk, deur die genade van die Here, om die nalatenskap van die geslagte wat ons voorafgegaan het, te eer. Die grootste taak lê nou vir ons voor: om ons gemeenskap in ’n reformasieproses te lei om ’n voorspoedige toekoms en die bewaring van ons kulturele identiteit te verseker,” sê regentes Gabo Moroka van die Seleka Barolong tradisionele gemeenskap.

“Daar bestaan ’n onsterflike vriendskap tussen Afrikaners en die Seleka Barolong. Dit was vir AfriForum ’n voorreg om aan die vriendskap herinner te word en dat dié vriendskap hernu kon word deur samewerking. Ons het ’n plig om ons kinders ook van dié geskiedenis te vertel en dit as grondslag te gebruik om goeie verhoudings te bou en so ’n voorspoedige toekoms te verseker vir die kinders van ons gemeenskappe. Ons is dankbaar dat lig die duisternis kon verdryf en dat waarheid die leuen oorkom het; ons sien met hoop uit na die uitkomste wat ons saam gaan bereik deur die hernuwing van die samewerking tussen Afrikaners en die Seleka Barolong,” sê Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

“Ek dra weer my dankbaarheid aan AfriForum oor. Hulle het by ons gestaan in ons donkerste uur. Ek waardeer ook die reis wat ons saam aangepak het sedert ons die vriendskap herbou het. ’n Vriendskap wat deur ons voorvaders daargestel is. Boweal het ons saamgekom omdat ons verstaan dat ons almal seuns en dogters van God is. Ek is nederig dankbaar dat dit tydens my leeftyd is dat dit vir ons moontlik was om te bou op die fondamente wat deur ons voorgeslagte gelê is. Ek verwonder my daaraan dat my voorouer, Kgosi Tshipinare Moroka, reeds gedurende daardie tye a visionêre leier was en dat hy die belangrikheid van naasbestaan en respek vir mekaar se kulturele diversiteit verstaan het. Wat ons van hier af vorentoe kan doen is om hande te vat en te bou aan die voorspoedige toekoms waarop ons almal hoop,” sluit regentes Moroka.

Soortgelyke plasings