|

Bethal-tak skenk 260 kg tamaties uit eie groentetuin

Die groentetuin wat sedert 2021 die gemeenskap van Bethal van onder meer spinasie, tamaties en uie voorsien, het in die afgelope paar weke nóg ’n groot oes opgelewer. AfriForum se Bethal-tak het gedurende Maart en April plaaslike organisasies bygestaan deur gesamentlik 260 kg tamaties aan hul te skenk. Al dié tamaties kom uit die tak se eie groentetuin.

Marilé Nieuwoudt, koördineerder van AfriForum se groentetuinprojek in Bethal, sê die jongste oes is opgedeel en aan die Bethal-sopkombuis, die Silwerjare Tehuis vir bejaardes en die Palms-aftreeoord geskenk sodat talle behoeftige gemeenskapslede hieruit kan baat vind.

“Hierdie projek ondersteun die gemeenskap wanneer omstandighede swaar druk op hul plaas. Die Bethal-tak bly daartoe verbind om hand by te sit en ‘n verskil in die gemeenskap te maak,” sê Nieuwoudt.

Die groentetuinprojek is met die oog op volhoubaarheid van stapel gestuur, daarom word daar grotendeels groente geplant wat ekonomies is én iemand versadig sal laat. Die projek word ook ondersteun deur inwoners en boere van die omgewing wat gereeld donasies in die vorm van kunsmis en ander benodighede maak.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het die groentetuin by kere al soveel groente gelewer dat dit selfs buite die Bethal-gemeenskap aan organisasies en kinderhuise geskenk kon word.

“Projekte soos hierdie wat werk skep en op ’n volhoubare wyse voedsel produseer is noodsaaklik vir gemeenskappe wat poog om selfstandig te word,” sluit Bekker af. 

Inwoners wat by die Bethal-tak betrokke wil raak kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings