|

Op heterdaad betrap! Potchefstroom-buurtwag trek koperdief vas

AfriForum se Potchefstroom-buurtwag het Sondag (19 November) ’n koperdief op heterdaad betrap en ’n belangrike rol daarin gespeel om dié verdagte aan te keer.

Dié arrestasie volg nadat ’n buurtwaglid Sondagmiddag teen omstreeks 12:00 ’n kennisgewing gekry het van ’n alarm wat op sy perseel geaktiveer is. Sekuriteitskameras op die perseel het boonop getoon dat ’n inbraak aan die gang was. Die AfriForum-buurtwag is dadelik per radio van die voorval in kennis gestel en om bystand gevra. Die verdagte is kort daarna, met die gesteelde koper nog in sy besit, vasgetrek.

Mooirivier Beskerming en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ook bystand verleen. ’n Saak van diefstal is by die polisie aangemeld.

Alta Pretorius, AfriForum se koördineerder vir die Mooirivier-streek, beskryf dié sukses as een van vele vir hierdie aktiewe buurtwag. Sy benadruk dat die AfriForum-buurtwag se betrokkenheid in die gemeenskap en hul samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye en die polisie, AfriForum se benadering tot selfdoen beklemtoon. “Die Potchefstroom-gemeenskap neem, soos meer as 160 ander gemeenskappe waar AfriForum takke het oor die land heen, die verantwoordelikheid vir hul veiligheid in hul eie hande – hier sien ons selfdoen in aksie.” 

Pretorius beklemtoon dat Potchefstromers in die naderende feesseisoen bedag op hul veiligheid moet wees. ’n Toename in misdaad word verwag en juis daarom moet inwoners moeite doen om veiligheid nou ’n prioriteit te maak.

AfriForum moedig inwoners aan om die volgende vier handige veiligheidswenke gedurende die feestyd te volg:

  1. Let op na hoe jou of die bure se honde blaf. Dit is dikwels ’n aanduiding van gevaar of ’n bedreiging.
  2. Bly op datum met die beurtkragskedule in jou omgewing. Kragonderbrekings maak die huis ’n sagter teiken waartoe kriminele makliker toegang kan kry.
  3. Vind uit wanneer jou bure met vakansie gaan. Bekom die nodige telefoonnommers wat gebruik kan word indien ’n noodgeval sou opduik.
  4. Sluit aan by die buurtwag, ry patrollies en neem kennis van informasie wat ingewin word.

Raak vandag nog by Potchefstroom se AfriForum-buurtwag betrokke. Kontak vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 vir meer inligting of om by hierdie buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings