|

AfriForum-tak in Bothaville vat hande met gemeenskap vir #Onsdorp-veldtog

Die AfriForum-tak in Bothaville het reeds in die afgelope jaar twee mense aangestel om deurlopend die groot eiland voor Spur skoon te hou en nou het dié tak ook hande gevat met die gemeenskap om die res van die dorp skoon te kry. Die Sakekamer asook verskeie ander instansies en individue doen hulle deel om vullis in die dorp op te tel.

Die wortel van die kwaad moet egter uitgeroei word, daarom word mense wat vullis in die dorp gooi opgespoor en tereggewys. As almal daarmee sal ophou, sal die dorp nie vuil word nie. Die tak plaas ook druk op die munisipaliteit om die verordeninge op te skerp sodat die skuldiges beboet kan word.  

Daar is ondernemings soos Senwes wat gras sny in die omgewing van hul persele, vullis verwyder en slaggate vul. Dit maak reeds ’n reuseverskil as elkeen net voor sy eie huis en perseel opruim en dit netjies hou.

BP Implemente lewer ook ’n groot bydrae deur dromme oop te sny en te verf om as vullisdromme aangewend te word. Spur en Spar, sowel as plaaslike inwoners, gee ook vir die werkers etes.

“Die feit dat die inwoners, instansies en ondernemings saam staan om Bothaville ’n mooier plek te maak is ’n riem onder die hart en gee ons sommer weer moed. Om saam te staan is die enigste manier hoe ons ’n verskil sal maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings