|

Eskom se wanprestasie regverdig nié ’n tariefverhoging nie

Terwyl Suid-Afrika onder fase 6 van voortslepende kragonderbrekings gebukkend gaan, vra Eskom dat verbruikers ’n derde meer vir elektrisiteit moet betaal.  AfriForum staan hierdie aansoek teen en het aan die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (NERSA)  se geskrewe proses deelgeneem.

AfriForum het hul geskrewe kommentaar rakende die elektrisiteitsverhoging wat Eskom vir die 2023/2024 en 2024/2025-finansiële jare aangevra het, by Nersa ingedien. Die burgerregteorganisasie voer aan dat Eskom steeds geteister word deur ’n gebrek aan sorgvuldige uitgawesbestuur, verkrygingsbestuur en wanadministrasie. Hierdie kostes moet by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief uitgesluit word. Eskom het ’n aansoek ingedien vir ’n verhoging van 32.66% in die 2023/2024 boekjaar.

“As mens na Eskom se prestasie kyk en die hoof oorweging van Nersa is of Eskom verstandig is met die lewering van elektrisiteit, kan hulle hoegenaamd nie vra dat verbruikers ’n derde duurder vir elektrisiteit moet betaal nie.  Nersa het die mandaat om die verbruiker te beskerm. Slegs omsigtige uitgawes kan verhaal word van verbruikers en dit beteken dat Nersa nie die feit kan miskyk dat Eskom steeds met ’n verkrygingskrisis sit ná vele jare van oudits wat die probleem uitwys. Nersa kan nie toelaat dat die tarief aanhou styg teen die tempo wat dit die laaste dekade geklim het nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

AfriForum is van mening dat gewone individue, sakelui en gemeenskapsorganisasies opwekkingsvermoë baie vinniger en meer effektief tot die netwerk kan byvoeg.  Hierdie was deel van Cyril Ramaphosa se toespraak rakende die kragkrisis.  Die verpligting lê nou by Nersa om reëls vir hierdie praktyk op te stel en te implementeer. 

“Dit is duidelik dat die oplossing nie in die staat se hande gelaat kan word nie.  Private individue moet daarna kan kyk om die kragtekort aan te vul.  Ons weet wel dat Eskom mense met hierdie vermoë wil beboet maar AfriForum sal hierdie proses ook bevraagteken en beveg,” sluit Mostert af.

AfriForum sal ’n voorlegging aan Nersa oor die tariefverhoging doen.

Soortgelyke plasings