Gesinsgeweld
|

Beeldmateriaal duik op van Kaapstadse sakeman wat sy vrou en kind aanval

Die wrede werklikheid van geslagsgebaseerde geweld is weer blootgelê met die verskyning van skokkende kringtelevisiebeeldmateriaal wat ’n man uitbeeld wat na bewering sy vrou aanrand terwyl hul dogter haar ma probeer beskerm. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens die ma en kind op. Die beskuldigde het gister in die Bellville-landdroshof in Kaapstad op verskeie aanklagte van aanranding verskyn.

Die identiteite van die partye word weerhou omdat ’n minderjarige sentraal in die saak staan. Die kringtelevisiebeeldmateriaal sal deel vorm van die getuienis teen die beskuldigde, wat ’n suksesvolle sakeman in Kaapstad is.

In tonele, wat herinner aan die Jaco Swart-aanrandingsaak wat gelei het tot landwye verontwaardiging en veroordeling, kan gesien word hoe ’n man op ’n bed ’n vrou oorrompel, haar oor haar hele lyf insluitend haar gesig slaan en haar wurg. Terwyl hy dit doen, probeer ’n jong meisie die aanranding keer.

Verskeie voorvalle is deur die egpaar se geslote kringtelevisie vasgevang. In Augustus 2018 het die privaatvervolgingseenheid se kliënt ’n saak van aanranding teen haar man geopen. Die polisie het die beskuldigde gearresteer, en hy is later borgtog toegestaan. Ongelukkig het jare se fisieke en emosionele mishandeling sy tol op die vrou en haar dogter geëis. Haar destydse prokureur het aan die aanklaer gesê dat hulle emosioneel ongeskik is om te getuig – die saak is daarna teruggetrek.

Ná die vrystelling van die Jaco Swart-video verlede jaar, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid met die vrou vergader wat nou bereid is om met die saak voort te gaan. Die eenheid het vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig en die saak is weer ingeskryf.

Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder, bedank die NVG dat hulle die saak weer op die rol geplaas het. “Ons sal hierdie saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied. Ons doen ’n beroep op slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om te praat en ondersteuning te soek. Daar sal altyd iemand wees om aan jou sy te staan, soos ons eenheid wat baie vroue in soortgelyke posisies bygestaan het,” sê Bateman.

Die saak is tot 16 Februarie 2023 uitgestel.

Hierdie video kan sensitiewe kykers ontstel.

Soortgelyke plasings