|

#OnsDorp-projek: Naboomspruit-tak verf voetoorgange by laerskool

Die AfriForum-tak en -buurtwag in Mookgophong het op 13 November 2021 as deel van die organisasie se Ons dorp-projek die voetoorgange by Laerskool Eugène N. Marais oorgeverf sodat dit weer duidelik sigbaar is. Tydens hierdie projek word verskeie projekte aangepak om die dorp te verbeter en selfstandigheid te bevorder. 

“Ons kinders se veiligheid is vir ons baie belangrik en daarom het ons dit goedgedink om die voetoorgange by die skool weer duidelik te maak,” sê Lucas Bornman, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

“Dit is verblydend om te weet dat sake-eienaars in die dorp dieselfde voel as ons. Ons het groot dankbaarheid teenoor Baboos wat die verf en rollers vir die projek geskenk het,” sê Kobus van Loggerenberg, buurtwagleier van dié tak.

Die Naboomspruit-takbestuur is tans op soek na iemand wat op die bestuur sal dien as sekretaris. Inwoners wat belangstel in dié portefeulje kan vir Bornman bel by 083 647 0530.

Raak vandag nog by AfriForum se tak in Mookgophong betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1) en word deel van die verskil.

Soortgelyke plasings