|

AfriForum-tak in Klerksdorp maak stuk-stuk ’n verskil

Die AfriForum-tak in Klerksdorp was die afgelope maand by heelwat opruimingsaksies betrokke en het sodoende ’n groot verskil in verskeie woonbuurte gemaak.

Die tak het weggespring met die Voëlpark se terrein, waar die Parkrun weekliks plaasvind. Die terrein se gras is gesny, die speelapparaat is geverf asook die paaltjies. Omdat die Parkrun ’n geleentheid is waaraan baie gemeenskapslede deelneem, wou die tak dit graag netjies en veilig hê en die gemeenskap is baie dankbaar vir dit wat daar gedoen is.

Die gedeelte van Buffelsdoornweg wat in Flamwood val, is ook getakel en straatvore en eilande is skoongemaak. Die randstene is ook netjies geverf.

Omdat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se kantore nie netjies genoeg gelyk het nie, is versoek dat AfriForum ook daar moet gaan opruim. Daar is dadelik ingespring – straatvore is skoongemaak, vullis is opgetel en randstene is geverf. Die SAPD is baie dankbaar vir die opruiming aldaar.

Een van die bestuurslede van die AfriForum-tak in Klerksdorp, Joey van der Walt, het betrokke geraak by ’n sopkombuis en ’n wen-wen-geleentheid raakgesien. Om kos te kry, moes die mense inspring en die area om hulle skoonmaak. Die mense was ook meer as gewillig om dit te doen. Die AfriForum-tak het die vullissakke en ander toerusting voorsien. Daar was ook iemand met sy eie bossiekapper; AfriForum het die brandstof daarvoor voorsien. Die omgewing van die Leemhuis en Oosthuisenstraat lyk al baie netjies. AfriForum se Songloed-buurtwag het die vullissakke verwyder.

Die park in Joostestraat het ook ’n beurt gekry om opgeruim te word en lyk nou soos ’n nuwe sikspens. Die gras is gesny en die vullis is verwyder. Mense kan nou die park gebruik vir oefen, speel of sommer net om met die honde te stap.

“Hierdie is ’n baie goeie voorbeeld van ’n tak wat die belange van die gemeenskap op die hart dra en ’n positiewe bydrae tot ’n beter omgewing maak. Om bykans 200 sakke vullis te verwyder, maak ’n baie groot verskil. Baie dankie aan elke borg, sonder julle sou ons nie al hierdie kon doen nie. Baie dankie aan Anton Oosthuizen, wat die buurtvernuwingsprojek koördineer, vir Joey van der Walt wat die sopkombuisskoonmaakaksie koördineer en Romke de Jongh wat die vullis altyd verwyder en ook skoonmaakaksies in Songloed onderneem. Julle maak werklik ’n sigbare verskil. As elke inwoner in Klerksdorp sou hand uitsteek en help, sal Klerksdorp spoedig weer ’n spogplek wees,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy betrokke wil raak by die Klerksdorp-tak se buurtvernuwingspoging, kontak vir Anton Oosthuizen by 076 529 4688.

Soortgelyke plasings