|

Sasolburg-tak ruim groenstrook op as deel van die #MyWoonbuurt-kompetisie

AfriForum se Sasolburg-tak het op 13 Mei ’n skoonmaakaksie van stapel gestuur as deel van hulle #MyWoonbuurt-kompetisie. Hierdie kompetisie is in Maart vanjaar geloods om gemeenskappe te help om hulle woonbuurte op te knap. Die gelukkige wenners van die aksie in Sasolburg was die area rondom die groenstrook wat van die staatshospitaal tot by die Primêre Skool Fonteine strek.

Met die evaluering was dit duidelik dat hierdie area dringend aandag nodig het aangesien mense van die omgewing gereeld van hierdie groenstrook gebruikmaak. Misdaad het ook toegeneem omdat die veld oorgroei is en skuiling vir misdadigers bied.

Tydens hierdie skoonmaakaksie van die betrokke groenstrook het die tak twee hektaar se gras gesny en die bome ook gesnoei. Die inwoners van die omgewing het die aksie ondersteun en ’n totaal van 21 vrywilligers het ingespring en gehelp.

“Die #MyWoonbuurt-kompetisie is geloods met die doel om gemeenskappe te help om weer hul woonbuurte op te knap en netjies te maak. Dié AfriForum-tak beplan om die #MyWoonbuurt-kompetisie later die jaar weer aan te bied en moedig inwoners aan om te stem vir die aksie waarmee hulle in hul woonbuurte hulp nodig het,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

“Hierdie aksie het ’n groot verskil in die omgewing rondom die groenstrook gemaak daarom bedank ons graag almal wat betrokke was. Dankie ook aan Proudly Vaalpark en Norman McLean se spanne en raadslid Ruanda Meyer wat gereël het dat die tuinvullis en vuilgoedsakke weggery is. Ons waardeer die ondersteuning en sal weer in die toekoms saamwerk,” sê Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak.

“Hierdie kompetisie wys dat sodra die gemeenskap betrokke raak, in hierdie geval deur te stem, iets positief kan gebeur. Die feit dat die gemeenskap kom help het, is ook bemoedigend. Baie dankie aan die tak en aan elke lid van die gemeenskap wat betrokke was. Julle maak ’n groot verskil,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap kan die tak se Facebook-blad en WhatsApp-groepe dophou vir inligting oor wanneer die volgende kompetisie gaan plaasvind. Om by AfriForum se Sasolburg-tak betrokke te raak, kontak Johan Cooks by 083 230 9073 of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings