AfriForum-tak in Senekal bied lesing oor rampbestuur aan


Die burgerregtewaghond AfriForum se Senekal-tak het prof. Andries Jordaan genooi om die gemeenskap op 1 Maart 2018 tydens die tak se ledevergadering toe te spreek. Jordaan is die direkteur van die Disaster Management Training and Education Centre for Africa (DiMTEC) by die Universiteit van die Vrystaat, wat onder meer daarop fokus om die publiek oor die voordele van deeglike rampbestuur in te lig.
Tydens sy lesing het hy spesifiek nege punte uitgelig wat elke gemeenskap in ag moet neem om seker te maak daar word behoorlike voorbereidings getref vir ’n droogte, soos wat tans in dele van Suid-Afrika heers. Dit sluit in om seker te maak dat daar genoeg kundigheid op regeringsvlak is, dat daar ’n bewustheid van die belangrikheid en skaarsheid van water is, dat infrastruktuur in stand gehou en opgegradeer word en dat druk op munisipaliteite geplaas moet word om die nodige aksies te kan uitvoer. Volgens Jordaan skep AfriForum-takke die ideale platform om munisipaliteite te dwing om hul werk te doen en om betrokke te raak by die aanpak van die uitdagings wat rampe, soos droogte, inhou. Verder het Jordaan die belangrikheid van water as natuurlike hulpbron beklemtoon, maar het ook sy kommer oor die swak gehalte van rampbestuur in die Vrystaat uitgespreek.
Die lesing is gevolg deur Mike Odendaal, die voorsitter van AfriForum se Senekal-tak, se terugvoer aan die gemeenskap rakende die tak se vordering sedert dit aan die einde van 2017 gestig is. Volgens Odendaal is die tak aktief met verskeie projekte in die dorp besig, soos ’n skoonmaakprojek en die herstel van brandkrane as deel van AfriForum se nasionale brandkraanprojek. Die tak is tans ook in samesprekings met die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit oor swak diensleweringskwessies, soos ’n tekort aan vullisverwydering en die voortslepende rioolkrisis.

“In ’n baie kort tydjie het hierdie tak reeds baie vermag en daar heers groot opgewondenheid oor wat vir die res van die jaar voorlê,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek. “Ons wil almal in die dorp aanmoedig om by die Senekal-tak aan te sluit en betrokke te raak sodat ons kan bou aan ’n volhoubare en voorspoedige toekoms,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings