|

AfriForum-tak skenk blink toekoms aan Lydenburgers

Die AfriForum-tak in Lydenburg se toewyding aan hierdie dorp en sy mense is opnuut bewys met ’n skenking van R4 000 aan die Lydenburg/Mashishing Sakekamer. Hierdie skenking word maandeliks vir die afgelope nege maande gedoen en is daarop gerig om verskeie skoonmaakaksies op die dorp te ondersteun.

Die tak se maandelikse bydrae word vir verskeie inisiatiewe aangewend, insluitend vullisverwydering, die instandhouding van openbare ruimtes en die bevordering van ’n skoner en veiliger omgewing vir almal. Daar was reeds in die afgelope twee weke met dié skenking gras in Voortrekkerstraat gesny en vullis daar opgetel en verwyder.

“AfriForum is daartoe verbind om ’n positiewe verskil in die gemeenskappe te maak en hierdie skenking is net een van die maniere hoe die Lydenburg-tak dit doen,” sê Erich Venter, voorsitter van die Lydenburg-tak. “Die tak sal voortgaan om die Lydenburg/Mashishing Sakekamer te ondersteun en hoop dat hierdie bydrae ’n betekenisvolle impak sal hê.”

Die Lydenburg/Mashishing Sakekamer sê hy is dankbaar vir die burgerregteorganisasie se deurlopende ondersteuning. “Hierdie skenking help ons om skoonmaakaksies voort te sit en die dorp vir ons besighede en inwoners te verbeter,” sê Etli van der Merwe van die Lydenburg/Mashishing Sakekamer.

Inwoners en plaaslike besighede wat by AfriForum se Lydenburg-tak betrokke wil raak en saam aan ’n beter toekoms wil bou kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings