|

Machadodorp-tak lewer 15 000 liter water aan Waterval Boven

Die AfriForum-tak in Machadodorp-tak het op 24 Augustus 15 000 liter water aan die gemeenskap in Waterval Boven beskikbaar gemaak. Dít volg nadat inwoners al sowat ’n week nie water het nie as gevolg van probleme aan die waterinfrastruktuur in hierdie dorp.

Na verneem word, het die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit die hoof waterpomp al die vorige week vir reparasies gestuur, maar daar is nog geen aanduiding wanneer die pomp weer geïnstalleer sal word nie. Dit het tot ernstige watertekorte in die dorp gelei en AfriForum is om hulp genader.

AfriForum se Machadodorp-tak het dus besluit om 15 000 liter water te voorsien om die nood in die dorp te verlig. Daar is water aan die Silwerdae-ouetehuis beskikbaar gestel, terwyl daar ook watertenks by die Nederduitse Hervormde Kerk en by verskeie inwoners se huise in die dorp volgemaak is.

Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, is dit net weereens ’n bewys van AfriForum se selfdoenmentaliteit. “Ons weier om toe te kyk hoe mense swaarkry as gevolg van basiese dienste wat nie plaasvind nie. Dit is juis as gevolg hiervan dat ons besluit het om self in te spring en water aan die inwoners van Machadodorp te voorsien. Dit is vir ons ’n groot voorreg om hierdie gemeenskap op só manier te kan dien,” sluit Van Heerden af.

AfriForum se Machadodorp-tak nooi die publiek uit om deel te raak van hulle aksies. Klik hier om aan te sluit.

Soortgelyke plasings