|

Marico-buurtwagte daag op in groot getalle vir massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Marico het op 19 April deelgeneem aan dié organisasie se nasionale massapatrollie. Altesaam 346 patrolleerders het 7 810,2 km in 191 voertuie afgelê in ’n poging om misdaad die hoof te bied. Veiligheidstrukture in die volgende dorpe het op hierdie aand patrollie gery: Hartbeespoort, Koster, Coligny, Brits, Rustenburg, Mooinooi, Zeerust, Lichtenburg en Ventersdorp.

“Dit is verblydend om die samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens, veiligheidsgroepe en gemeenskapspolisiëringsforums te sien. Ons gesamentlike poging het gelei tot ’n veiliger en meer veiligheidsbewuste gemeenskap en ons waardeer die deelname van al die inwoners en instansies,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil graag al die deelnemers bedank wat hierdie nasionale patrollie in Marico moontlik gemaak het. Sonder die gemeenskap se hulp en die betrokkenheid van alle rolspelers sou dit nie moontlik gewees het nie. Die bereidwilligheid van individue om betrokke te raak in hierdie poging is ’n bewys van die belangrikheid van ’n veiliger omgewing en ’n meer sekuriteit-gefokusde gemeenskap.

AfriForum is trots daarop om ’n positiewe verskil in die voorkoming van misdade te maak deur die gebruik van ’n gemeenskapsgebaseerde benadering. Ons bevorder samewerking tussen gemeenskapslede en wetstoepassingsagentskappe, wat bydra tot ’n toename in die opsporing en aanhouding van misdadigers. Die teenwoordigheid van ons patrolliespanne in ’n gebied dien as afskrikmiddel vir misdadigers en verminder die moontlikheid van aanvalle op onskuldige slagoffers.

Word vandag deel van die oplossing en sluit aan by jou dorp se AfriForum-buurtwag: Besoek https://afriforum.co.za/wat-doen-ons-2/buurtwagte/.

Soortgelyke plasings