| |

AfriForum-tak spring in om waternood te verlig ná storms verwoesting saai

AfriForum se Overstrand-tak het ingespring om inwoners van Hermanus en omliggende gebiede se waternood te verlig nadat storms verlede week verwoesting in dié gebied gesaai het en watervoorsiening na sekere dele van die dorp aansienlik belemmer het. Die tak het drie 5 000 liter-watertenks by Sandbaai, Huis Lettie Theron en die SOFCA-sentrum geplaas. Daarbenewens het die tak se veiligheidsvoorsitter, Lourens Theron, ook ’n 15 000 liter-watertenk vir die publiek se gebruik beskikbaar gestel.

AfriForum se Overstrand-tak is dankbaar vir al die ondersteuning en hulp wat die gemeenskap en ander rolspelers gebied het met die vervoer van die watertenks en die opvul daarvan. AfriForum se Alfa-buurtwag was ook betrokke en het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ten opsigte van gemeenskapsveiligheid ondersteun en selfs deur middel van AfriForum se lugsteun (hommeltuig) belangrike veiligheidsinligting aan die SAPD voorsien.

“Ons bedank ons AfriForum-lede vir hul tyd en bereidwilligheid om hul gemeenskap te help in sulke moeilike omstandighede. Hierdie is net nog ’n bewys dat lede van die gemeenskap werklik ’n verskil maak deur hul betrokkenheid,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings