|

Taal Tel 9 – Johan Roos en die RRB Bybelvasvra

Johan Roos is tans die president van die Rapportryerbeweging (RRB). Hy het die Rapportryers se vlagskipprojek, hulle jaarlikse Bybelvasvra, aan AfriForum bekendgestel. Hierdie inisiatief skep die geleentheid vir ’n groot getal Afrikaanse kinders om kennis oor die Bybel in hulle eie taal op te doen en weer te gee. In die jaar wat ons die Afrikaanse Bybel se negentigste bestaansjaar vier, is dit gepas om ook meer oor die kompetisie uit te vind en leerders aan te moedig om in 2024 daaraan deel te neem. Alana Bailey het met Roos gesels vir die nuutste Taal Tel.

Hoe het die Rapportryers se Bybelvasvra ontstaan en hoe het jy daarby betrokke geraak?

Die Rapportryers in Sasolburg het gedurende 1977 op plaaslike vlak met die Bybelvasvra begin. Die projek het wye belangstelling gelok en is reeds gedurende 1979 as ’n nasionale projek van die Rapportryers gevestig.

Ek het as lid van die Rapportryers op plaaslike vlak daarby betrokke geraak. Gedurende 2010 is ek tot visepresident van die Rapportryerbeweging verkies en het my betrokkenheid op nasionale vlak baie momentum begin kry. Met die RRB-landsberaad in 2016 is ek verkies tot president. Sedertdien is dit my trots en eer om meer as my bydrae te lewer tot die sukses van die Rapportryers se nasionale vlagskipprojek, die Bybelvasvra.

Wie neem deel daaraan en hoe werk dit?

Leerders van laer- en hoërskole kan landwyd deelneem. Ons bemark die vasvra by kerke, laer- en hoërskole. Skole en kerke ontvang jaarliks reeds in Januarie hoofstukke uit die Ou- en Nuwe Testament van die Bybel wat in die jaar se kompetisie behandel word. Van hulle begin reeds dan met die voorbereiding. Skole en kerke kan elke jaar tot en met einde Junie inskryf.

Wat is die deelnemers se reaksie op die kompetisie?

Die leerders sowel as die spanleiers is eenvoudig absoluut mal oor die kompetisie. Hulle kan nie wag dat daar begin word met volgende jaar se kompetisie nie.

Vind julle dat spanne elke jaar terugkom?

Baie beslis! Van die afrigters is al bykans 20 jaar betrokke by die kompetisie.

Wat is van jou interessante ervarings met die kinders tydens kompetisies?

Die opgewondenheid, die gees en gesindheid vanaf die uitdunrondtes tot en met die finaal is ’n ongelooflike belewenis. Terugvoering vanaf ouddeelnemers, baie van hulle nou reeds in beroepe, berig dat hulle baie van spanwerk geleer het, ook dat hulle werklik vir die eerste keer geleer het om naslaanwerk te doen. Hulle noem ook dat die ondervinding wat hulle tydens die voorbereiding vir die Bybelvasvra opgedoen het, hulle ontsettend baie gehelp het met verdere studies, ook op universiteit. Sommige berig dat hulle met die Bybelvasvra werklik Christene geword het. Dit het ook aanleiding gegee daartoe dat sommige vandag predikante is. ’n Tyd gelede het ons een meisie gevra wat sy eendag wil word. Haar spontane antwoord was: “’n Bybelvasvra-juffrou”!

Watter verskil het jou betrokkenheid ook in jou lewe gemaak?

’n Mens beweeg ongetwyfeld nader aan jou Skepper met die betrokkenheid, en die gesindheid van die kinders teenoor ons Bybelvasvra-projekspan is ’n ongelooflike belewenis. ’n Mens ervaar daardie goeie tevredenheidsgevoel wat niks kan oortref nie.

Hoe het 2023 se kompetisie tot dusver verloop?

Die uitdunrondte vir laerskole (graad 5 tot 7) en die finaal vir hoërskole (graad 8 tot 10) is pas afgehandel. Die spanne het uitstekend presteer en die vraestelle was buitengewoon straf. Ons is baie opgewonde en dankbaar dat inskrywings aansienlik tot 99 spanne gegroei het – 17 meer as die vorige jaar!

In die hoërskoolafdeling het Hoërskool Zwartkop van Pretoria met die louere weggestap. Die span was werklik baie goed voorberei en het uitstekend presteer. Die RRB is inderdaad baie trots op die span en sien daarna uit om hulle tydens die finaal vir laerskole by die ATKV-oord, Klein-Kariba, te onthaal.

Oudergewoonte was die laerskole se deelname aan die uitdunrondte van die vasvra, wat dwarsoor Suid-Afrika geskryf is, iets besonders. Ons wil graag die toptienspanne van harte gelukwens met die prestasie om na die finaal deur te dring en hulle sterkte met hulle voorbereiding toewens. Hulle is, in alfabetiese volgorde, Constantiapark 1 van Pretoria, Die Krans 1 van Pretoria, Elarduspark 1 van Pretoria, Elarduspark 4 van Pretoria, Eversdal 1 van Durbanville, Hennopspark 2 van Pretoria, Lichtenburg 1 van Lichtenburg, Pietersburg-Oos 1 van Pietersburg, Randhart 1 van Alberton en Stephanus Roos 1 van Pretoria.

Waar en wanneer vind die laerskole se finaal plaas?

Die RRB sien daarna uit om die topspanne te onthaal en gesellig saam by die ATKV-oord Klein-Kariba te verkeer gedurende die naweek van 20 tot 22 Oktober 2023.

Hoe kan skole wat geïnteresseerd is inskryf vir 2024?

Met ons bemarking van die Bybelvasvra verskaf ons kontakbesonderhede aan belangstellendes – hulle kan in Januarie 2024 begin uitkyk daarvoor.

Watter ander projekte van die Rapportryers maak jou opgewonde?

Die Bybelvasvra is een van twee nasionale projekte, die tweede een noem ons die “Ouboet-projek”. Laerskoolseuns van graad 6 en of 7 wat gewoonlik deur ’n enkelouer grootgemaak word en dit nie breed het nie, word deur skoolhoofde en onderwysers geïdentifiseer om daaraan deel te neem. In sommige gevalle neem kinderhuisseuns ook deel. RRB-korpse (oftewel takke) op plaaslike vlak neem die seuns uit vir ’n dag of naweek en onthaal hulle. Verskillende aktiwiteite word aangebied, byvoorbeeld abseiling, verfbalskiet, skyfskiet, vierwielmotorfiets ry, die maak van braaitange waarop hulle self hulle name graveer, ensovoorts. Uiteraard word ’n Christelike praatjie, asook ’n motiveringspraatjie dan aangebied.

RRB-korpse bied op plaaslike vlak egter ’n wye verskeidenheid projekte aan. Daar word onder meer gekyk na verskillende tipes geskiedenisprojekte, en leerders op hoërskoolvlak kry erkenning vir hul bydrae en betrokkenheid by ons Afrikaanse kultuur. Op plaaslike vlak word fondsinsamelingsprojekte ook gehou op verskillende maniere. Alhoewel die RRB ’n kultuurorganisasie is, reik ons verder uit na tehuise vir bejaardes. Braaigeleenthede word vir hulle gehou en doeke word ook vir hulle aangekoop. Die staat se krimpende bydraes het ons genoop om ook op dié wyse ’n positiewe bydrae te lewer.

Dan bied die RRB elke tweede jaar ’n landsberaad aan. Die jaar waarin daar nie ’n landsberaad plaasvind nie, hou provinsies hul eie provinsiale berade.

Waar kan mense meer oor julle werksaamhede te wete kom?

Besoek gerus die RRB se webblad by www.rapportryers.co.za.

Soortgelyke plasings